Bygewerk op 14 Januarie 2022
Redakteur: Jana Luther

Help ons | Blogs en artikels | Woordewisseling | Podsendings | Speletjies | Teksredaksie

Van Januarie 2020 af word hedendaagse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat dalk elders in die slag gebly het – in dié Woordeboek van Afrikaans Vandag (WAV) bewerk. Met uitsondering van beeld, klank en addisionele teks word die artikels ook in Pharos Aanlyn opgeneem. Tik ’n woord in die kassie en vind dié woord dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Onthou dat dit ’n lewende woordeboek is wat heeltyd groei en verander. Sluit aan by ons leesprogram en help ons.

A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z

digitaal b.nw. | digitale | waarby ’n stelsel betrokke is wat data elektronies bewaar.
digitale bank bank wat al sy dienste via digitale kanale, soos die internet en mobiele banktoepassings, verskaf: Die bank wat nou as die grootste digitale bank in Suid-Afrika beskou word, kon daarin slaag om te midde van die inperking tot sewe nuwe produkte [...] bekend te stel (Francois Williams, Netwerk24, 13 April 2021).ENGELS: digital bank

digitale boorling iemand wat tot die generasie behoort van mense wat grootgeword het in die era waar tegnologie alomteenwoordig is: Ons bevind ons in koloniale Suid-Afrika, apartheid-Suid-Afrika, demokratiese Suid-Afrika, of as digitale boorlinge van die globale digisfeer: Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde (Lizette Rabe, Netwerk24, 3 Mei 2018). Dit is die era van die ontgogelde digitale boorling en alle bronne is skaars. Die gevolg is dat die skeiding tussen ryk en arm meer skreiend is as ooit vantevore (Netwerk24, 28 September 2015). Speletjies word reeds deur groot maatskappye soos Deloitte en die Wharton-sakeskool gebruik om sekere vaardighede te leer. Vir jong mense kom dit natuurlik omdat hulle digitale boorlinge is (Netwerk24, 4 Junie 2015).ENGELS: digital native

digitale bron versameling gegewens wat digitaal vasgelê is en digitaal bewaar word: Om ’n digitale bron te kan gebruik, is ’n apparaat nodig wat die digitale gewens, wat gewoonlik in die vorm van syfers, gewoonlik kombinasies van ene en nulle, bewaar word, na taal en beeldmateriaal kan omskakel/vertaal. Hierdie woordeboek is ’n digitale bron. Kandidate kan ook na hulpbronne soek op die WKOD se e-portaal, wat skakels na digitale bronne vir alle grade insluit (Standard, 26 Februarie 2018).ENGELS: digital source

digitale etiket omgangsvorme en beleefdheidsreëls wat in die digitale wêreld – op die internet, in die sosiale media, en so meer – geld: Digitale etiket gaan daarom dat ’n mens ook in die digitale wêreld met gebruike in die samelewing en ander se gevoelens rekening moet hou. Vaardighede van ’n goeie persoonlike assistent: … Verstaan digitale etiket (Elvira Wood, Netwerk24, 17 Februarie 2016).ENGELS: digital etiquette

digitale ekonomie die invloed van nuwe tegnologieë, nuwe loopbane en nuwe vorme van samewerking op die arbeidsmark en samelewing van die toekoms: Ná die eerste twee werksessies by die beraad het Merkel die media vlugtig oor handel en die digitale ekonomie toegespreek (Netwerk25, 28 Junie 2019).ENGELS: digital economy

digitale geesteswetenskappe [afkorting: DG] studies waarin elemente van rekenaar- en geesteswetenskap saamgevoeg word: [Digitale geesteswetenskappe is] ’n begrip wat vroeg in die een-en-twintigste eeu ontstaan het om ʼn klomp nieverbandhoudende strategieë en benaderings bymekaar te bring te midde van die toenemende digitale transformasie van die alledaagse lewe en werk van geesteswetenskaplikes. Algemene voorbeelde [van DG] is kunsmatige intelligensie […]. Taalstudies waarin korpora deur middel van sagteware of rekenaarkode ingesamel en verwerk word, is ook voorbeelde (Benito Trollip, SADiLaR, 30 Januarie 2020).ENGELS: digital humanities | DH

digitale geldeenheid Ook digitale geld, elektroniese geld, elektroniese geldeenheid geldeenheid wat in digitale vorm beskikbaar is (nie in banknote en munte nie) en wat deur middel van gedesentraliseerde tegnologie en met minimale tariewe, ook sonder die tussenkoms van ’n bank of sentrale owerheid, veilige betalings oor grense heen moontlik maak: Beleggers kan nou ook ripple koop en verkoop op […] Suid-Afrika se grootste verhandelingsplatform vir digitale geldeenhede (Petrus Malherbe, Netwerk24, 25 Februarie 2020). kriptogeldeenheidENGELS: digital currency

digitale identiteit al die gegewens omtrent ’n persoon wat permanent aanlyn beskikbaar is: Sulke nalatigheid is ’n risiko vir hulle en hul digitale identiteit (Niel Joubert, Netwerk24, 12 November 2013).ENGELS: digital identity

digitale immigrant iemand wat tot die generasie behoort van mense wat nie in die tyd van inligtingstegnologie grootgeword het nie, maar eers as volwassenes met digitale aparate en stelsels leer werk hetENGELS: digital immigrant

digitale kaart
1
enige aanlyn, digitale voorstelling van ’n plastiekkaart, soos ’n debiet-, krediet- of ID-kaart, wat volledig virtueel is en wat ’n mens dus nie fisiek nie, maar aanlyn aanbied om jou te identifiseer, betalings te doen, en so meer: Die virtuele kaart is ’n nuwe funksie wat vir alle kliënte beskikbaar is en wat ’n ekstra laag veiligheid bied vir aanlyn inkopies en aanlyn intekendienste. Die kaart se besonderhede word veilig in ons app gestoor en word nie aan die fisieke kaart van die kliënt gekoppel nie. Dit beteken dat ons kliënte nie meer hul fisieke kaartbesonderhede in aanlyn betalingsportale hoef in te voer nie (Francois Viviers, Netwerk24, 19 April 2021).

2
digitale voorstelling van ’n land, gebied, terrein of gebou wat die ligging van belangrike plekke, geboue of voorwerpe aandui: Wanneer jy op ’n toer gaan of ’n digitale kaart aflaai om self die kunsroete te stap, kry jy aanwysings na die meer as 120 bestaande en nuwe muurskilderye in die omgewing (Netwerk24, 13 Februarie 2021). Jy moet die internasionale geografiese inligtingstelsel (GIS) bedank vir GPS-kaarte. Die GIS-projek samel tradisionele kaarte, lugfoto’s en allerlei geografiese inligting van reg oor die wêreld in en omskep dit in digitale kaarte (Cyril Klopper, Weg, 22 Julie 2019). Gebruik die kaartprogrammatuur op ’n skootrekenaar om jou presiese roete uit te pluis en plant vlaggies op die digitale kaart vir vulstasies, besienswaardighede en slaapplek (Weg, 22 Julie 2019).
ENGELS: digital card | virtual card | cloud card

digitale kurering Ook digitale kurasie keuse, bewaring, instandhouding, versameling en argivering van digitale inligting, bronne en bates: Willem Boshoff se argief is ’n unieke voorbeeld van eksperimentele en konseptuele argivering én verbeeldingryke digitale kurering wat, hoewel uiters sistematies van opset, ook alternatief, kreatief, oop, speels, informatief, performatief, kunstig en sensories is (Josef van Wyk, Suzanne de Villiers-Human, Dirk van den Berg, LitNet Akademies, 12 Mei 2015). In 'n kort tyd het sy verskeie outentieke bronne ontleed, hul standpunt bepaal en hulle met haar eie menings gesintetiseer. Sy het toe begin werk om haar idees aan haar klasmaats voor te stel as 'n aanlyn versameling, eerder as 'n klein museumuitstalling. Dit is digitale kurering wat reg gedoen word: studente werk op 'n sinvolle manier met outentieke materiaal; vind, analiseer en organiseer om nuwe betekenis daar te stel uit die baie materiaal wat aanlyn beskikbaar is (ISTE Blog, 23 Mei 2017).ENGELS: digital curation

digitale tegnologie tegnologie waarby ’n prosesseerder/verwerker gebruik word wat op grond van ingevoerde gewens en volgens ’n program ’n aantal logiese handelinge/bewerkinge kan verrig met ’n bepaalde uitvoer tot gevolg.: Aandeelhouers is besorg dat die [myn]bedryf nie vinnig genoeg nuwe en digitale tegnologie aanvaar nie (Riana de Lange, Rapport, 9 Junie 2019).ENGELS: digital technology

digitale veiligheid ingeligtheid omtrent (en die vermoë om versigtig om te gaan met) digitale privaatheids- en beveilingsaspekte, veral met betrekking tot persoonlike en finansiële gegewens: Kinders kan hul weg na internetuitmuntendheid oopspeel met Interland, 'n aanlyn avontuur wat die kernlesse van digitale veiligheid met vier uitdagende speletjies prakties uitvoerbaar maak (Google-veiligheidsentrum).ENGELS: digital safety


 Nuut: Taal grondslag van kinders se grondslagfase (rubriek) | Woorde van 2021 (podsending)

Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is nié aan enige ander projek verbind nie en word deur niemand geldelik gesteun nie; dit is ’n eie inisiatief en ’n aparte, onafhanklike projek van die redakteur en gebruikers wat via die leesprogram daaraan meewerk.

Kopiereg © 2020-2022 Jana Luther