
’n Viering van Afrikaans
In die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, die WAT, word die taal van vandag, van die onlangse verlede en van vroeër, Afrikaans van die begin af, opgeteken. Woorde en uitdrukkings uit die algemene variëteit, die standaardvariëteit van Afrikaans, en woorde en uitdrukkings uit al Afrikaans se ander variëteite. Leksikale items uit vaktaal, wetenskapstaal, skryftaal, geselstaal, streektaal, vloektaal, en alles tussenin.
Soms kom daar woorde verby wat dalk ongewoon, onbruikbaar of verouderd lyk. Vat ’n mens hulle spoor, is dit egter nie altyd die geval nie. In elke streek, distrik, stad, dorp, woonbuurt, huis leef daar in die spreektaal van mense van verskillende generasies unieke woorde en uitdrukkings.
Van baie Afrikaanse woorde, verstrengel met woorde en uitdrukkings uit eie bodem, uitdrukkings en woorde van ander vastelande, eilande, ander tale, reik die wortels terug via Nederlands, Middelnederlands, Oudnederlands, Germaans, tot by die hipotetiese vrugbeginsel: die oertaal Proto-Indo-Europees. Woorde en dele van woorde wat tussen 6 000 en 7 000 jaar gelede ontstaan het, wat vandag nog gebruik word.
- Ampas en riewas
- Herfsblaarswerwers en towerbruintjies
- Kokkewiet en Kettemekê
- Langerape, korteknape
- KI en promptografie
- Die Polonie van Benoni
- ’n Deegpop met rosyntjie-oë
- Braaikoebaai en hondtrovert
- Derwisjdans en duiwelskringloop
Hieroor en meer skryf Jana Luther sedert 2018 vir Beeld, Die Burger en Netwerk24 ’n tweeweeklikse taalrubriek, Woordewisseling. Langer weergawes word soms in die RSG-program Taaldinge uitgesaai. Uit dié meer as 200 rubrieke wat reeds in Afrikaanse koerante en aanlyn verskyn het, het sy vir die viering van die WAT se 100ste bestaansjaar in 2026 die 100 rubrieke in hierdie bundel uitgekies en saamgevoeg.
“In haar rubrieke het Jana lesers oor jare bemagtig met nuwe woorde, insig gegee in die betekenis van bestaande woorde, laat gesels oor die moontlike nuwe betekenisse van woorde en uitgedaag om te dink oor die konteks waarin woorde gebruik word. Die publikasie van hierdie bundel in 2026 is ’n belangrike merker in die eeufeesviering van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal en ’n beduidende byvoeging tot die bewaring en viering van Afrikaans.”
– Johanna van Eeden, Netwerk24
