Naas sy verskillende variëteite het Afrikaans ook heelparty sosiolekte – beroepstale, groeptale, mengtale, geheimtale. Die informele spreektaal van delwers is hiervan ’n voorbeeld.
Van die ou, informele taal van diamantgrawers is daar vandag maar min gebruikers oor, maar van die tyd toe die delwerskoors hoog geloop en duisende geluksoekers na nuut geproklameerde delwerye gestroom het, getuig ’n klein skat inskrywings – meer as 700 – in die WAT.
Waar uit delwerskampe dorpe en stede verrys, hardloop mans (en vroue) eens resies. Elk om ’n stukkie grond met mynbouregte af te pen. Wie eerste kom, lê die grense van die beste kleims vas deur op elke hoek ’n delfpen in te kap – ’n stafie met ’n metaalplaatjie met die naam en nommer van die delwer daarop.
Om jou stukkie grond om te dolwe, het jy ’n prospekteerliksens nodig. Vind jy ’n gelukkie, moet jy van die mynkommissaris ’n delwersliksens aanvra. Jy moet kleimgeld betaal. Dok jy nie op nie, kan ’n ander delwer jou kleim oorpen. Of ’n kleimsteler – ’n kleimjomper – kom in die nag, trek jou penne uit en kap syne in.
Op die delwerye is daar altyd iemand wat regstaan om ’n kleim te jomp. ’n Kleim wat so onwettig afgepen word, is ’n fop- of dommiekleim (van “dummy claim”).
Die delwerstaal is deurspek met Engels.
Met delfhamer en -pik word die gruis losgemaak. By die wasplek verwyder die kleimeienaars en deelwerkers, of sjêries, die handrof – groterige klippe – met die hand. Dan word die emmers in siwwe omgekeer.
Eers skud die tapper die bobbejaan- of rofsif, die bybie (na ’n Amerikaner met die van Babe), meer dikwels “ dommie” genoem. Die dommie is ’n groot skommelsif. Dit hang in ’n vierkantige of langwerpige houtraam en word heen en weer gewieg en gestoot – gebybie – om die fyner gruis van die dommierof en oortollige sand te skei.
Die dommierof, of tjommel, is klippe groter as diamanthoudende gruis, gewoonlik groter as 2,5 cm in deursnee, wat nie deur die fyner siwwe gaan nie. Saam met die handrof word dit vlugtig deurgekyk. Daar loop ’n legende van ’n skaapkopdiamant …
Die diamanthoudende gruis word in die was gesit.
In ’n wasmasjien wat met ’n slinger gedraai word, of met ’n handsif in ’n balie, word die gruis gegraviteer sodat die swaarste klippies afsak in die porrel – die modderige mengsel wat by die was ontstaan. Die modderwater loop weg, en die klippies bly agter.
In die graviteersif of klassif, met middelgroot gaatjies, word die growwe van die fyner klippies geskei. In die klassif bly stene van ’n goeie formaat agter. Die sandsif, daarna, is so fyn, dit hou die kleinste diamantjies.
In diamantgruis word verskillende klipsoorte aangetref: Doppe is lig en waardeloos. So ook hongerklip. Oliegruis is blink en halfdeurskynend. Kaiings bevat min of geen diamante. Asgruis is vaal met enkele klippies tussenin. Klinkers, spoelklippies van allerlei groottes en kleure, is so hard, hulle maak ’n klinkgeluid wanneer hulle teen mekaar stamp. In aartappelbontgruis is die klippies aartappelvormig en verskillend gekleurd, maar diamante skaars. Die vorm van patatklippe herinner aan dié van ’n patat. Koring laat aan koringkorrels dink. Daar is askoekies, ertjies, moerbeie. Kwarts, kristal. Haelkorrels, bokhael.
Beenklippies, wat soos beentjies lyk, ook vetklippies genoem; geelpitjies; en blokkies, min of meer kubusvormige swart klippies, word as ’n goeie teken van die aanwesigheid van diamante beskou. So ook swaar, gladgespoelde klippe met verskillend gekleurde stene in hulle samestelling, sodat dit lyk asof daar om elkeen ’n band is. Vandaar die naam “bantom” uit “bandom”, soms ook “bantam”: aartappelbantom, bessiebantom, groenblaarbantom (met die vorm van ’n doringboom se blaartjie), koedoebantom (waarvan die grondkleur met ’n dowwer of helderder band aan die kleur van ‘n koedoe laat dink), krytbantom (met ’n krytagtige lagie), lak- of rooilakbantom (met ’n kleur soos dié van outydse seëllak), en meer.
Tussen al dié klippe bly die delwer op die uitkyk na ’n kleurtjie, ’n blinkklippie, al is dit maar ’n sanddiamantjie: ’n mellie, mekkeltjie of skerfie.
Soms lê daar ’n amber (amberkleurig), bierbottel (groen en nie veel werd nie), frossie of koutie (met ’n kalklagie bedek), melkie (melkerig wit) of keppie (halfrond met ’n plat kant) in die sif.
As jy die dag regtig gelukkig is, dalk ’n duimkop, kalfs- of osoog. (“Ek het heelmôre die gevoelentheid gehad,” sê ’n langbaard wat van die een delwery na die ander drentel.)
Die ware blinkoog is ’n glasie, helder en deursigtig, soos ongekleurde glas. ’n Glasdiamant sonder foute is een van die waardevolste diamante.
’n Geluk op die delwerye moet gevier word, gewoonlik met drank: Ná die vonds, met uitvaltyd, gaan die delwers om ’n hakertjie te maak en die diamant te “doop”. So laat baie delwers hulle swaarverdiende geld deur die keel glip.
’n Kleim dra grof as dit groot diamante oplewer, maar meer dikwels getuig die grondkneukels van ’n uitgewerkte delwery – ronde hopies grond in rye, wat aan die kneukels van ’n hand laat dink – van meer teleurstellings as suksesse: die allemansverdriet van ’n allemanstrek.
’n Diamant wat nie aan die verwagtinge van sy vinder voldoen nie, omdat dit vlekke het, gebars is of te klein is, is ’n jammerklippie.
Op die ou end is die meeste diamante maar jammerklippies.
“Jammer hy’s nie groter nie,” word daar gesê.
Of in die geval van ’n makdiamant, onwettig bekom: “Jammer hy’t ’n man in die kliptronk laat beland.”
Jana Luther
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 17 Januarie 2020 in die rubriek “Woordwisseling” in