Die skatte wat ons opvergaar,
word net vir mot en roes bewaar.
–
Opgaar ww., het opgegaar; opgegaarde. Met verloop van tyd tot ’n groot hoeveelheid bymekaarmaak of versamel en vir latere gebruik berg; met verloop van tyd bymekaarmaak of versamel vanweë ’n begerigheid of drang om iets te besit (Woordeboek van die Afrikaanse Taal).
◊▫◊▫◊
Die ma en pa praat Engels met mekaar. Engels met hul kinders. Die gange van hul huis is Engels. Die kinders hou daarvan. Afrikaans is vir hulle soos die knope in Ouma se knopeblik.
So skryf Rachelle Greeff, eens, in dier voege, in ’n kortverhaal.
Abiekwaboom. Aartappelmietmot. Allerhandegedagtebos, appelliefie.
Baardmannetjie, bergappeltjie, bekertjiesgras en belletjiesheide. Besembiesie. Bergboegoe. Bitterboela.
“Hou die Afrikaanse woord tog so na as moontlik aan die internasionale woord,” pleit iemand dié week op Facebook.
Blinkblaarbos en bloukalossie. Boskapok. Dakgeitjie, dikbeksysie. Buig-my-nie, deurmekaarbos. Duwweltjiesdoring, droedaskruid. Goggojot, ghallaghielie.
“Hou Afrikaans tog googlebaar.”
Kommetjiegatmuishond. Horingmanslang. Katjietee, kelkiewyn. Koggelmandervoetkaroo. Kuifkoppikkewyn.
“Maak dit makliker om Afrikaans te skryf.”
Mantelbobbejaan. Lierhoringbees. Laplaploerie.
“Laat ons sonder bronne werk, laat ons vinniger vertaal.”
Pandoeka. Mieliestronkboorder. Muishondblaar. Noorsdoring, norretjiepatat.
“Ons sukkel.”
Sakaboela. Malkopkewer. Peperbos. Perskalkoentjie, rooistompneus, rooiwanguil.
Wat word van al dié opgaargoed?
Wanneer Ouma nie meer daar is nie? Wanneer Oupa nie meer daar is nie? Al die houers, bokse, al dié flentertjies lap, blikke vol knope, botteltjies, skroefies, moertjies? Rakke, ry op ry. Boeke, lêers. Koerante, tydskrifte, elk op sy plek, dag en maand deur die jare vergeel. Miljoene knipsels, kaartjies, van toeka se mense, toeka se plekke. Die letters vervaag. Flarde teks verdwyn in groot data.
Hoe lank voor die kinders die motgevrete dele van ’n woordeboek wegdoen? Hoe lank voor die kinders, hulle kinders, digitale lêers verlê, vergeet?
Sal van hulle, soms, nog deur die blaaie sif, soos kinders, kleintyd, deur knope? Hulle aan letterkombinasies, proe-proe aan klanke verwonder; dinge uit die verlede onthou, ontdek, verbeel; die blik dan weer toemaak, bêre?
Of sal hulle gewoon die swartsakke en wieletjiesblikke volstop?
Jana Luther
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op Vrydag 31 Januarie in die rubriek “Woordwisseling” in