Nuwe woorde

Die Woordeboek van Afrikaans Vandag (WAV) word deurlopend bygewerk. Hier is ’n paar van Januarie en Februarie se nuwe inskrywings.

Vir die koronavirus en -siekte is sedert Desember verskillende name gebruik, onder meer “2019-nCoV” en “Wuhansiekte”, na die “virusstad” waar dit ontstaan het. Op 11 Februarie maak die Internasionale Komitee vir Virustaksonomie en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir beide die virus en die siekte ’n amptelike naam bekend: “EARS- (SARS-)CoV-2” vir die virus, om die verband met “EARS-CoV”, wat in 2003 ’n soortgelyke “ernstige akute respiratoriese sindroom” (“EARS”) veroorsaak het, te beklemtoon, en “Covid-19” (“coronavirus disease 2019”) vir die siekte.

Die naam “EARS-CoV-2/Covid-19” is dus soortgelyk aan “MIV/vigs”: Die eerste deel verwys na die virus; die tweede na die toestand. As jy Covid-19 het, is jy siek.

Beeld, en die meeste ander Afrikaanse publikasies, skryf “korona” met ’n “k”. Huisgenoot verkies “corona”. Al twee is reg. Onder ’n elektronmikroskoop lyk die virus soos ’n blomkrans. Dit besorg aan hom sy naam: uit Latyn “corona”, via Grieks “korone” – ‘kroon’ of ‘(strale)krans’.

Woorde van vreemde herkoms het dikwels twee moontlike spellings. Party tale, soos Japannees, het ’n nie‑Romeinse alfabet én ’n amptelike sisteem wat die Romeinse alfabet gebruik. “Shiitake” en “shimeji” óf “sjiitake” en “sjimeji”. Vir dié sampioene is al vier spellings reg.

Nog kosvoorbeelde is “blomkoolrys” (die kool gemaal tot korrels); “edamame” (groen sojabone in die peul); “kimchi” (gefermenteerde kool); “kriekmeel” (van die insek); “kombucha” of “komboetja” (gefermenteerde tee); “lattekuns” of “melkkuns” (die patrone op jou cappuccino); “robynsjokolade” (pienk en met ’n bessiegeur wat kom van die kakaobone self); “sumak” (’n vrug en spesery met ’n vars, suur smaak).

’n “Pieng-gereg” (na die tydklokkie van ’n mikrogolfoond) benodig opwarming en is klaar. Vir ’n restaurantlose kombuis, wat bestellings vanaf sy spyskaart uitsluitlik by huise en kantore aflewer, lê die naamkeuse tussen “donker-”, “spook-” en “wolkkombuis”.

Weg! se skrywers wikkel met neologismes, soos laas jaar se “bullebakkie”. Dié slag munt hulle “mesmoertang” vir ’n multitaakknipmes: ’n “knyp- en draadtang, mes, sagie, tandjieslem, platpunt- én sterpuntskroewedraaier, vyl, blik- en botteloopmaker … Net nog ’n mullet, dan’s jy MacGyver”.

In ’n “slimstad”, waar “inligtingstegnologie”, die “internet van dinge”, selfs “huisrobotte” vir verskillende aspekte van beheer en bestuur gebruik word, is ’n “kragbank”, ’n draagbare toestel wat vanaf ’n ingeboude battery via ’n USB-poort aan USB-toestelle krag kan voorsien, ’n beurtkragnoodsaaklikheid.

Uit wetenskapsfiksie kom “gesigsuier” en “bors(kas)breker”. In verskeie rolprente is dié tweetjies onderskeidelik die tweede en derde ontwikkelingstadium in die lewensiklus van ’n parasitiese boaardse wese (“Alien”), ook bekend as ’n xenomorf, wat ’n gedaanteverwisseling ondergaan: Gesigsuiers, sonder oë of mond, soek op agt vingeragtige pote na ’n gasheerliggaam wat hulle met met ’n embrio kan besmet, waarna hulle sterf. Die borsbreker is ’n nuwe wese wat binne ’n dag nadat ’n gesigsuier sy embrio in ’n gasheerliggaam geplant het, die gasheer verlaat deur sy pad na buite te breek.

“Defensiewe argitektuur”, ook “verdedigende argitektuur” of “vyandelike argitektuur” genoem, verwys na die ontwerp van openbare geboue, bushaltes, en dies meer, om bepaalde gebruike (misbruike), byvoorbeeld deur haweloses, skaatsers, graffitikunstenaars, dwelmverslaafdes of diere, te voorkom, soos deur die oprig van traliewerk, of deur dit onmoontlik te maak om op sekere plekke te sit of te slaap.

’n “Deugpronker”, ook “deugsinjaleerder”, loop met haar/sy deugde te koop.

’n “Diepdekkingsagent” werk in die geheim terwyl hy/sy voorgee om iemand anders te wees.

Mense wat aan “diogenessindroom”, of die “sindroom van Diogenes” ly, verwaarloos hulleself. Hulle verontagsaam higiëne, toon obsessief-kompulsiewe gedrag, versameldrange, agterdog.

Geselstaalwoorde is “bloulampie” (vir ’n oog wat blou geslaan of gestamp is), “sementbek” (vir iemand wat niks sê nie), “Marie-Johanna van der Schijff” (van “marijuana” vir dagga, “skyf” vir sigaret) en “Springbroekie” (vir swem en handskud in die kleure van die SA vlag).

’n “Sneeuvlokkie”, veral ’n millenniër, is (na die mening van die spreker of skrywer) oorsensitief.

As jy “djas” is, is jy laf, verspot: “Is jy dan nou djas?”

Uit Moesliemafrikaans kom “toelies”, vir Arabiese skrif en letters, en ook as werkwoord vir ‘skryf’: Die eerste koplesboek in Afrikaans was ’n kitaab getoelies in Arabies.

“Gielaaf” is moeilikheid.

’n Neiging wat my sedert Januarie opval, is die (nou ingeburgerde?) gebruik van “trend”, vir “gier”, “mode” of “tendens”: Huisgenoot kies top-trends vir jou tuin. “Ontrommel” is ’n trend, berig Tuis. ’n Gelaat wat lig soos glas reflekteer, is ’n trend, sê Sarie. Nes Afrikaans wat Engels weerkaats.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 28 Februarie 2020 in die rubriek “Woordwisseling” in