Ommesientjietyd

Maaltyd, werktyd, slaaptyd. Skermtyd, leestyd; dinktyd, speeltyd. Kleintyd, jeugtyd, beseringstyd, leeftyd.

“Die dag stap luiters verby soos ’n kat, stert omhoog,” dig Wilma Stockenström. “Laat my jou streel. Spring nou op my skoot. Ek wil jou iets vertel … Vorentoe, agtertoe loop die tyd katvoet aan my verby, en spin.”

So-ewe, sopas, meer as 3 000 jaar gelede, het die Egiptenare die eerste horlosie gebou. ’n Son(ne)wyser. Een so ’n wyser het die vorm van die letter “T” gehad. Dit het die helfte van die dag, wanneer die son skyn, die tyd tussen een nag en die volgende, in twaalf ewe groot dele verdeel.

In die nag was daar die sterre, wat nes die son bedags, weens die roterende aarde, deur die lug “beweeg”. Deur twaalf sterre te kies en hulle te volg, kon die Egiptenare snags, deur dié sterre in die naghemel dop te hou, sien hoe laat dit was.

Twaalf uur lig. Twaalf uur duisternis.

Twaalf. Nie, sê nou maar, vyf of tien, ’n tiendelige of desimale stelsel, waarby ’n mens op jou vingers en tone sou kon tel nie. In elke periode van 24 uur, een etmaal, waarin die aarde een maal om sy as draai, is daar 1 440 minute; in elke minuut 60 sekondes.

Dié verdeling van tyd het die antieke Egiptenare van die nog antieker Babiloniërs oorgeneem. In hulle koninkryk in die ou Mesopotamië het die Babiloniërs so vroeg as die 18de, 19de eeu voor die huidige jaartelling vir wiskunde en sterrekunde reeds ’n seksagesimale stelsel gebruik – ’n stelsel gebaseer op die getal 60, wat hulle op hulle beurt afgekyk het by die ou Sumeriërs.

’n Seksagesimale tydsverdeling met twaalf (twaalftallige, duodesimale) onderafdelings vir dag en nag, 60 vir ure en minute, is nuttig. Terwyl tien net deur homself, vyf en twee gedeel kan word, is twaalf deelbaar deur homself, twee, drie, vier en ses. As vyf maal twaalf kan 60 deur altesame twaalf getalle – meer as enige getal kleiner as hy – gedeel word.

“Dit is die Prediker wat ons wou leer daar is ’n tyd vir alles … Vandag weet ons daar is tyd vir niks, alles string aaneen: met geboorte begin ons al sterf en sterwend gee ons geboorte … wat ons verloor, is wat ons begeer en wat ons vind, is wat vergete is en wat vergeet word, is wat ons liefhet … só is die lewe weinig meer as ’n verbleikblom,” dig Louis Esterhuizen. “Kyk, U het my dae ‘n paar handbreedtes gemaak,” die Psalmdigter. Iemand – wie? – “Die lewe is ’n kortverblyfsaal”.

Kan ons, in die trant van Stockenström se minister, dalk dié tyd gebruik vir maatreëls tref om toekomstige tyd omsigtiger te hanteer? Daarteen waak dat ure in ’n japtrap, oogwink, flirts, ki(r)ts, selfs grendeltyd as ommesientjietyd verbyflits; dae dalk eerder vul met rukkies en tydjies, oomblikke, momente, genoeg asemteue, en pouses vir onthou?

Want terwyl Breyten se bome groen bly, en die sterre wit, is elke aandagtig gevulde oomblik al wat ons het. Ook in dié tydskarnier, in dié (tyd)gewrig.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 24 April 2020
in die rubriek Woordwisseling in