Opvallend is die baie nuwe woorde wat in dié tyd geskep word. In Nederland is ’n koronawoordeboek by Taalbank.nl in die nuus; hier grendeltydskeppings by Afrikaans.com. In die Woordeboek van Afrikaans Vandag, by afrikaans-vandag.co.za, is April en Mei se nuwe opnames nie net virusverwant nie; ook ander werklikhede word weerspieël. Dit maak bly.
Kinders word aangemoedig om kreatief te wees. Ons skep: kuns, musiek, uitvindings, wetenskap, tegnologie. Ons maak tuin, bak koek, met bestanddele wat ons het, en wat ons koop. Kom dit by taal, dan kom mense en sê: Moenie dit nie, nie dat nie, doen liewer sus as so.
As dié moets en moenies oor grammatika gaan, sê maar reëls vir die vorming van meervoude, verkleinwoorde, trappe van vergelyking, idiomatiese taalgebruik, of die grondbeginsels van Afrikaanse spelling, koppelteken of deelteken, los of vas, dan is die saak reg, en – te oordeel na wat ’n mens op Facebook en elders soms sien – bes moontlik nodig. Daarvoor het ons VivA se nuwe Taalonderrigportaal, wat dié week bekend gestel is, en die AWS. Maar vir woorde, woordeskat, is asse en maars minder heilsaam. Om dié tyd in taal te omvat, het ons baie woorde nodig.
Ons kan woorde by ander tale steel – as ’n woord eers geleen is, word dit nie maklik teruggegee nie. Ons kan die oorspronklike spelling behou: dalgona, kombucha, Machina sapiens, magwinya, quinoa, scoby, shisa nyama. Of, met die AWS byderhand, verafrikaans: antroponose, komboetja, pareidolie, poliamoreus, soönose.
Ons kan woorde saamvoeg: aanjaagfooi, anderjanstorie, bogberig, deugpronker, skuldverklikker, spoedtarief, spookwedstryd. Ons kan woorde herhaal: aanpoer-poer, hanna-hanna. Ons kan woorde split, vir beklemtoning ’n kragwoord invoeg: Haibleddiekôna, dit was alles verbleddieniet!
Om korter, kragtiger te sê, kan ons woorde verkort: nemma, pedi, rona. Dele afkap, wat oorbly saamvoeg: betereinder, kletsbot, kosmeseuties, molla, teleurgang, Trumpspoedig. Ons kan aan woorde nuwe funksies toeken: fotobom, het gefotobom; Instagram, instagrambaar; WhatsApp, whatsapps, het gewhatsapp; het gezoom. Uit komplekse woorde kan ons eenvoudiger woorde skep: kureer uit kurator; spookskryf uit spookskrywer; stoomrol uit stoomroller. Van beginletters van woorde kan ons letternaamwoorde en akronieme maak: Ears, KWAK. Ons kan nuwe woorde van allerlei soorte bedink: beandering, jintoelina, onthaasting, skaloeloe, tjaks. Nuwe uitdrukkings skep: Die agteros uit die kraal skop. Na die berg geabba wees. Dis ’n toutjie wat ’n galg gaan word. (Dankie, Heino du Plessis, vir jou bruikbare nuutskeppings.)
’n Gesonde, lewenskragtige taal vul sy woordeskat op ál dié maniere aan.
Baie bly eendagsvlieë; ander trek aandag, word van mond na mond, na papier, na woordeboeke oorgedra. Júlle is die fabriek; woordeboeke die houers waarin ons júlle woorde verpak.
Hoe meer ons het, hoe meer opsies het ons om inhoud oor te dra – fyn, genuanseerd drome, gedagtes, idees te verwoord. As Afrikaans jou taal is, as jy dit ken, daarin leef, volg jy onbewus die reëls van die grammatika wat jy as kind, spontaan, geleer het. Dis in jou kop. Gebruik dit.
En help ons deur betrokke te raak by Afrikaans Vandag se leesprogram.
Hoe?
Vestig ons aandag op woorde en uitdrukkings wat nog NIE opgeneem is in die nuutste uitgawes van Afrikaans se groot een- en tweetalige woordeboeke nie – maak seker by Pharos Aanlyn en/of in VivA se Woordeboekportaal. Dit kan ’n nuwe woord, frase of uitdrukking wees, of ’n nuwe betekenis by ’n woord wat reeds bestaan. Dit kan tipies wees van jou omgewing, of die veld waarin jy werk.
Laat weet ons daarvan deur dié vorm te voltooi.
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 22 Mei 2020 in die rubriek Woordwisseling in .