Wat maak die taal van mense – menslike taal – anders as die kommunikasiesisteme van ander wesens?
In ’n belangrike boek wat verlede jaar verskyn het, wat omtrent elke aspek van taal behandel, Human Languages: From genes and brains to behavior, onder redaksie van Peter Hagoort, wys die bioloog T.W. Fitch op drie verskille tussen die taalvermoë van die mens en die kommunikasievermoë van groot ape, soos sjimpansees en orangoetangs.
In vergelyking met ape het mense groter en fyner beheer oor hulle spraakorgane. Terwyl ons moeiteloos tienduisende woorde kan vorm, produseer ape slegs ’n beperkte aantal geluide. Anders as ape, bou die mens met taal hiërargiese strukture. Ons groepeer klanke saam tot woorde, woorde tot frases, frases tot sinne. Ons kommunikeer in fyn besonderhede: dra boodskappe oor; druk wense uit; sê wat ons dink, ervaar; formuleer, sit ingewikkelde gedagtes, idees uiteen. Met ons monde, met gebare. Ons skryf.
Wat taalvermoë betref, is ’n aap dus nie die mens se gelyke nie.
Maar, sê Leonie Cornips, ’n taalkundeprofessor en navorser in taalvariasie: Ons kyk te eng na taal. Cornips doen antropologiese navorsing oor die kommunikasie tussen diere en mense, spesifiek die “taal” van beeste. Aan die Nederlandse NRC Handelsblad sê sy: By diere word byna altyd na “kommunikasie” verwys, nie na “taal” nie. Dis tyd, sê sy, “dat ons dié digotomie opsy sit en verstaan dat diere hulle eie tale het. Selfs al is daar geen grammatika wat ons herken nie”.
Op boer Jan se plaas stap die koeie na die weiveld. Hulle gewaar die vreemdelinge van die universiteit, steek vas, skud hulle koppe. Hulle stap eers verder wanneer die besoekers eenkant toe staan. ’n Koei steek vas, snuffel aan hulle, lek aan ’n broekspyp. Sê Cornips: Ruik is ’n belangrike deel van koeie se taal. Die dier vra: Wie is julle?
Beeste is vir haar ’n onbekende kultuur, wat sy wil leer ken. Al om die ses weke besoek sy die koeie in hulle stalle. Sy borsel hulle, hou dop hoe hulle op haar, die boer, op mekaar reageer, hoe hulle hulle ore roer. Sy luister hoe hulle bulk. Op ’n keer het ’n koei die boer se hulp nodig. Sy het “al hoe intenser, langer, hoër” geloei. Nes ’n mens wat om hulp roep: “Help. Help! Hélp!”
As iemand die stal binnekom, maak die koeie ’n lae, byna zoemende gelui. ’n Soort groet. Buite, tussen ander beeste en mense, doen hulle dit nie. Cornips vergelyk dit met mense in ’n stad: “As jy daaraan gewoond is om baie mense te sien, groet jy minder.”
Bloot ’n kwessie van interpretasie?
Natuurlik, sê Cornips. Maar ’n oop gemoed is belangrik. “Wetenskaplikes sê: Diere verwerf nie taal nie, want sjimpansees leer nie menslike taal aan nie.” Sê Cornips: “Na my wete het geen mens ook nog ooit die taal van sjimpansees geleer nie. Ons eie verstaan van taal is dus net so beperk.”
Deur die onderskeid wat ons tussen mense en diere tref, deur die woorde wat ons gebruik wanneer ons van hulle praat, byvoorbeeld wanneer ons sê skape is dom, of dat ’n vrou swanger is, maar ’n koei dragtig, hou ons ’n bepaalde wêreldbeskouing in stand en skep ons afstand, sê Cornips.
Deur diere te verdinglik, word dit maklik om hulle te mishandel, te misbruik, te slag, te eet.
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 19 Junie 2020 in die rubriek Woordwisseling in