Kla ’n Afrikaanse teksredakteur dié week (hy is nie die eerste nie): “Bakkiesblad, potgooi en toep: die drie-eenheid van onsinnige, cutesy Afrikaanse nuutskeppings.” En voor jy kan sê “vonkpos” en “aapstert”, is daar ’n rei wat dié weersin beaam:
“Werklik vieslik.” “Jammer Facebook het nie opgooi-emoji’s nie.” “Daai woordjies is sooo pretentious!” “Regte mense praat nie so nie.” “Ek dink uit die hele spul pla ‘potgooi’ my die meeste. Dit is darem verskriklik gedwonge en het géén etimologiese meriete nie.”
Vir dophouers van taalverandering is dié soort gesprek interessant. Waarom ontlok spesifieke klankgrepe, wanneer hulle tot woorde saamgevoeg word, by sommige taalgebruikers soveel afkeer?
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal kry selfs die skuld: “Die WAT het hierdie kak aangewakker met hulle nuutskeppingskompetisie wat honderde van hierdie walgwoorde voortgebring het. Soos julle seker weet was die wenner “talmwalm” … Waddefok is dit met die boere en cute en rym?”
Nou ja, ek self is dalk geneig om met die laaste stelling te wil-wil saamstem, soms. Nie oor die WAT nie, maar oor Afrikaanspraters se vurige voorliefde vir rymende sillabes. Hopelik maak die skeppers van die meeste rymneologismes maar ’n grappie, troos ek my. Hopelik ook dié wat “bakkiesboek” gebruik. Wanneer dit by woordskepping kom, kort ons vir balans definitief ’n bietjie meer erns. Maar waarom word “potgooi” en “toep” (naas “podsending” en “app”) as walgwoorde beskou?
In Afrikaans word baie woorde verkort: “Johannes” word “Jan”; “lisergiensuurdiëtielamied” “LSD”; “chemoterapie” “chemo”; “selfoon” “sel”; “eksman”, “eksvrou” “eks”. Ons het woorde soos “groep”, “roep”, “stoep”, “troep”. Maar onder die loep is dadelik “toepassing” “toep”.
Afrikaans, nes Nederlands, Engels, baie ander tale, het heelparty woorde te danke (?), te wyte (?), aan volksetimologie: Die Karibiese “amaca”, vir ’n hangende bed, word in Spaans “hamaca”, in Frans “hamac”, in Nederlands en Afrikaans uiteindelik “hangmat”. Die Ou Noorse “skyrbjúgr”, van “skyr” (suurmelk) en “bjúgr” (geswel), vir die siekte wat in die 13de eeu aan seevaarders se langdurige gebruik van suurmelk gewyt is, heet vandag “skeurbuik”. Maar skoei op dié lees uit Engels se “podcast” nou “potgooi”: Dan is “potgooi” dadelik ’n “nool woord”, glad nie cool nie, want vir volksetimologie het ons te slim geraak.
Sê iemand wat al 20 jaar weg is: “Daar is ’n groot gaping in my Afrikaanse woordeskat … Afrikaans ontwikkel steeds. Ek dink dit sal afhang van jonger taalgebruikers hoe ons taal 20 jaar verder gaan klink … baie soos ’n gebraakte vorm van Engels, of soos die unieke taal wat dit is … Dalk is my eintlike argument dat mense moet dink as hulle praat.”
In sy uitstekende blog, “Sentence first”, oor Engels, skryf die Ier Stan Carey lank terug: “ ‘Not a word’ is not an argument”. Vry vertalend, dink ek, skaar ek my by hom: Wanneer mense woorde afskiet deur te sê “dis nie ’n woord nie”, sê hy, kan jy redelikerwys aanneem hulle bedoel dis ’n woord waarvan hulle nie hou nie, wat hulle nie sal gebruik nie, wat volgens hulle in die neutrale standaardtaal nie deug nie, wat ’n bepaalde woordeboek nie erken nie, wat hulle as onvanpas vir die konteks beskou. Maar daar is ’n belangrike verskil. Neologismes, jargon, funksiewisseling word gereeld veroordeel. Nuwe woorde lyk dikwels lelik, sinneloos, belaglik, maar van hulle word mettertyd wel gebruik. Ek sê nie aanvaar elke nuutskepping nie, maar deur nuutskeppings te verdra in plaas van hulle veroordelend te beoordeel, kan ons ons heroriënteer ten opsigte van nuwe taalmoontlikhede … ’n Dempende gekibbel oor woordstatus negeer dat taal, hoogs produktief, hoogs speels, ons nooi tot kreatiwiteit.
Wordnik se Erin McKean sê dit kort: “If it seems wordish, use it.”
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 14 Augustus 2020 in die rubriek Woordwisseling in