Koebaai, Meraai

’n Paar van die woorde wat die afgelope kwartaal, van Julie tot September, in die Woordeboek van Afrikaans Vandag (nou ook by PharosAanlyn) opgeneem is:

Gereeld in die nuus was internetberoemdes en sosialemedia-beïnvloeders, by wie die nuwe tendens, in Engels, “cancel culture” ontstaan het: Op Twitter, Instagram, Facebook word openbare figure, organisasies, maatskappye wat hulle aan diskriminerende of beledigende gedrag skuldig maak, of daarvan verdink of beskuldig word, deur gesaghebbende meningsvormers aangeval totdat hulle jammer sê of hulle uit die voete maak.

In Afrikaans is “cancel culture” dadelik met kanselleerkultuur, ook kansellasiekultuur, vertaal. Af en toe sien ’n mens afskafkultuur, boikotkultuur, uitsluitkultuur, en ook retrosensuur: die verwydering, uit ou tekste en films, geboue, die openbaar, van elemente wat weens veranderde norme en waardes nou as onaanvaarbaar beskou word.

Deugdwang verwys na die sosiale druk op mense om hulle optrede en denke by die heersende mening aan te pas; dwangkrag na die vermoë en mag van deugpronkers om mense te laat doen wat hulle uit vrye wil waarskynlik nie sou nie. Is dit moreel regverdigbaar? Stel dit vas met ’n bloostoets, word gesê: Kan die boikot, afskaffing, uitsluiting onbeskaamd verduidelik word?

Op vlak 1 van die covid-19-pandemie bly nuwe woorde kom, en gaan: papmasjien, motorfiets-ambulans, fietsambulans. Vir meer direkte kontak, interaksie van aangesig tot aangesig – aangesigtyd, sientyd – dra baie nie sommer enige hierjy-smoelkappie meer nie, maar modemaskers, wat as modebykomstigheid dien. Buite-aktiwiteite is in, en binneblykonserte, vir tuisstroming, bly hopelik gewild. In bioborrels sluit leeflinge (Louis Esterhuizen se woord vir “lewensmaats”) hulle knus van die buitewêreld af (maar ’n mens lees ook van eensaamheidsdood). Bedek jou masker, elders, nie jou mond én neus nie, is dit hou verby, José, koebaai, Meraai, want ons bly versigtig.

Naas PIMS (pediatriese inflammatoriese multisisteemsindroom), ’n eens seldsame sistemiese afwyking, gekenmerk deur ernstige ontsteking en koors by kinders, is PIMS-TS (PIMS ná blootstelling aan EARS-CoV-2, wat covid-19 veroorsaak) nou ’n aanmeldbare siekte.

Agter die Engels aan het Afrikaans se koerante en tydskrifte die skryfwyse Covid-19 gevestig, al sê die reëls vir die skryf van afkortings in Afrikaans ’n beginhoofletter deug eintlik net vir eienaamwoorde. Vir die name van siektes, wat soortnaamwoorde is, beveel die AWS aan: kleinletters (covid-19, vigs), of hoofletters (COVID-19, VIGS).

Voorbeelde van spesialisterme wat opgeneem is, is misofonie, of geluidshaat, ’n hewige afkeer van bepaalde geluide; en antilokusie, waarby negatiewe aanmerkings oor iemand of ’n groep gemaak word, sonder om die aanmerkings direk tot die persoon of groep te rig.

Uit Namakwaland en die Karoo kom streeksjuwele soos dreunlyf, vir iemand wat kwaad is, en fluisterdraf, soos dié van ’n wildsbokkie, waarvan ’n mens die pote op die grond net-net hoor. Karoo-oesters is lamsknatertjies; rissel, die gebakte rugvel van ’n ystervark; ghries, grondboontjiebotter en konfyt; en streepmuis, roosterkoek – wat vloekbrood word, as jy dit op die rooster omdraai en jou vingers verbrand.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 25 September 2020 in die rubriek Woordwisseling in