Uit Arabiese grond

Ek luister dié week na die Algerynse sanger-liedjieskrywer Souad Massi. Verstaan g’n snars nie, maar haar stem en kitaar klink goed, en terwyl ek luister, maak ek ’n lys van Afrikaanse woorde uit Arabies. Wat is die geskiedenis van woorde tog interessant.

Arabies is ’n Semitiese taal; die belangrikste van verskeie tale van die Afro-Asiatiese taalfamilie wat in Noord-Afrika en Suidwes-Asië, hoofsaaklik in die Nabye Ooste, dus, gepraat word. Dit is ook die taal waarvan die letters gebruik is om die eerste boek in Afrikaans te toelies. Nog Semitiese tale is Hebreeus, Aramees, Ethiopies.

Die bepaalde lidwoord, die, is in Arabies al-. Ontleners van woorde uit Arabies het dit egter nie altyd gesnap nie, en dan die lidwoord en bepaalde selfstandige naamwoord as ’n enkele woord oorgeneem. As ’n mens Afrikaanse woorde met Arabiese wortels soek, is al- dus ’n goeie begin:

Albatros, alchemie, algebra, alkohol, alfalfa, alkali, alkalies … Ook admiraal, appelkoos en arsenaal. Gaas, jasmyn. Kafee, kanfer, karaat, koffie, katoen. Lak, luit. Magasyn en matras. Oranje, tjek. Safari, safraan, sofa, spinasie, suiker, syfer. Tarief, tuna, tifoon en meer.

Baie van dié woorde het ’n interessante geskiedenis.

Die oorspronklike betekenis van alfalfa, Arabies al-fisfisa, is “die vars voer”. Alkali, Arabies al-qaliy, beteken letterlik “die as”, of “die verbrande as”, van die Arabiese woord qala, “om in ’n pan te braai”. Afrikaans se suiker, in Arabies sukkar, kom via Persies, shakar, van die Sanskrit woord sharkara, wat “gemaalde suiker” of “suikerkristalle” beteken het, maar oorspronklik “gruis” of “klipgruis”. Die naam van die kleur oranje (en dus ook Engels se orange, sowel die vrug as die kleur) is ’n vervorming van die Arabiese naranj, via Persies, narang, van die Sanskritnaam vir ’n lemoenboom: naranga-s.

Om woorde uit ander tale oor te neem, hulle by die eie taal aan te pas, is so oud soos die geskiedenis van die wêreld se tale self.

Albatros is ’n vermening van die Portugese alcatraz en alcatruz. In die 16de eeu was ’n alcatraz ’n pelikaan, en ’n alcatruz die emmer van ’n waterwiel – oorspronklik uit Arabies al-qadus. Die emmerbetekenis is toegepas op die pelikaan se krop, wat lyk of dit kan water hou, soos die bakkie van ’n bakkiespomp. Die tronkeiland Alcatraz in die baai van San Francisco is genoem na pelikane wat daar gebroei het toe die Spaanse ontdekkingsreisiger Juan Manuel de Ayala in 1775 daar verby is. Toe Engelse matrose, weg van die Noord-Atlantiese Oseaan, in die 17de eeu ’n onbekende voël hulle skepe dae lank sien volg, noem hulle dié voël ook “alcatraz”. Vandaar vandag se albatros, met sy spelling aangepas by die Latynse woord albus vir “wit”.

 Alchemie, letterlik “die chemie”, verwys na die primitiewe chemie van die Middeleeue; alchemiste wat onedel metale in goud probeer omsit en soek na ’n lewensverlengende elikser of panasee. Sonder die lidwoord kom die moderne chemie van dieselfde woord: kimiya, wat Arabies op sy beurt van ’n nog ouer, Egiptiese woord kry: chem of gam, wat “swart grond” beteken.

Die oorsprong van algebra is die titel van ’n handleiding, geskryf deur ’n beroemde 9de-eeuse wiskundige, Bagdad Abu Ja’far Muhammad ibn Musa al-Khwarizmi. Dié boek, Al-jabr wa al-muqabala (“Berekening deur herstel en balansering”), wat in die 12de eeu in Latyn vertaal is, het ook Arabiese syfers aan die Weste bekend gestel. In die 16de eeu staan dit as “algiebar” bekend, met die klem op die tweede sillabe. Later verskuif die klem en dit word algebra.

Ten slotte ’n glasie. In Arabies al-kuhul of kohl. Etimologies “die poeier van antimoon”: ’n gekristalliseerde, bros silwerwit metaal wat mens in ’n vysel kan fynstamp of tot ’n gas kan verhit wat by afkoeling weer tot ’n vaste stof kondenseer. Arabiese vroue het dié kohl as oogskadu gebruik. Via Middeleeuse Latyn het “alkohol”, “die poeier verkry deur sublimasie”, “die produk van distillasie” geword, en uiteindelik (teen 1850) slegs ’n enkele distillaat: hardehout.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 9 Oktober 2020 in die rubriek Woordwisseling in