“Tee”, “kaal koffie”, “koffie sonder ketel”, “Bolandse kookwater” … Betekenisontwarring by die eerste bring my by Suid-Afrika se “nasionale sopie”: “die ruggraat van die wynbedryf”, die karperd wat glo menigmaal die wa deur die drif trek, van deftige klubs tot gewone huise, die bar in De Aar tot die sjebien op die hoek.
Die kuns van brandewyn stook – oorspronklik as medisyne – kry Europa van die Arabiere, die Arabiere van die Egiptenare. Uit Latyn se “aqua vitae”, Frans se “eau-de-vie”, Afrikaans se “akwaviet”, “akkawieta”, “akkamadiewie”, Duits se “Lebenswasser”, blyk die medisinale waarde van dié “water van die lewe”. Van die Duitsers se “Branntwein”, wat in Engeland as “brand wine” en in Frankryk as “brandevin” verkoop is, het “Brannt-” oorspronklik die gegiste vrugte- of groentesap aangedui, wat gebrand, gedistilleer of gestook is, asook letterlik die smaak daarvan.
Dat brandewyn, van wyn gestook, ook verouder kan word, is eers in die 17de eeu, per toeval, ontdek: Toe matrose van verbygaande skepe die Franse stadjie Cognac se akwaviet versmaai, bly die stooksel van die terroir se niewatwonderse druiwe op ’n keer lank in eikevate lê. Toe dit eindelik getap word, het die helder vloeistof tot amber verkleur en is die brandsmaak wonderbaarlik sag op die tong.
In Mei 1672, skryf Van Riebeeck in sy dagregister, distilleer ’n kok op ’n Hollandse skip, De Pijl, in Tafelbaai voor anker, die eerste brandewyn van Kaapse druiwe. Toe die Voortrekkers ’n eeu of wat later die pad binneland toe vat, dra elke wa sy vaatjie saam, want van ons grootjies se boererate is brandewyn die hart: “Met tiemie getrek vir aambeie, met eierwit vir bedsere, met heuning vir bronchitis, met roulynolie, kasterolie en byewas vir brandwonde en ’n groot verskeidenheid kruie om die ‘bloed skoon te maak’. Vir bleskop is brandewyn, paraffien en kasterolie voorgeskryf, vir slanggif skoon brandewyn, tot jy naar word. Vir koliek is perdemis en brandewyn net dié ding,” skryf Hester Claassens (2003) in Die geskiedenis van boerekos 1652-1806.
Van Suid-Afrikaners se passie vir brandewyn getuig die WAT in vyftien boekdele.
As huismedisyne is brandewyn met allerhande bestanddele gedokter. Hoe lyk dit met ’n alsie, anysie of boegoetjie? Brandewyn waarop die bitter blare of knoppe van als, anys of boegoeblare getrek het. Dalk ’n doppie – of ’n nippie (’n kwartbotteltjie) – bloekom-, foelie-, gemmer-, kaneel-, kanfer-, knoffel-, naeltjiebrandewyn?
Uit Nederland kom “boeremeisies”, brandewyn met appelkose of amandels, en “boerejongens”, met rosyntjies. “Kaapse jongens”, of korrelbrandewyn, is soet, word gemaak deur brandewyn op ryp druiwekorrels, gewoonlik hanepoot, en suiker te laat trek.
Onder die groot aantal skertsende benamings vir brandewyn tel “blouperd”, “brandvoetjie”, “domkrag”, “doringdraad”, “hardehout”, “kieliewater”, “kragwater”, “kromhoutsap”, “kwaaiwater”, “lawaaiwater”, “tiermelk”, “vuurwater” … ’n “afsakkertjie” of “aposteltjie”.
Baie brandewyndrinkers het vir hul voorkeurproduk ’n troetelnaam, soos “Klippies” of “Wekkertjie”, vir die bottel met ’n prent van ’n horlosie daarop, of “Moses-in-die-mandjie” vir een met ’n rafia-omhulsel.
Daar is uitdrukkings: Brandewyn en vroueraad (!) is goeie dinge, maar jy moet dit by bietjies gebruik. Pasop vir ontaard in ’n brandewynvlieg met ’n brandewynneus en brandewyntrane by wie dit die brandewyn is wat praat. Iemand wat so dig soos ’n brandewynbottel is, is geheimsinnig.
Vandag word die naam “brandewyn” in Afrikaans uitsluitlik vir gedistilleerde wyn van druiwe gebruik, in Suid-Afrika in potketels gedistilleer (teenoor kolomdistillasie elders) en vir minstens drie jaar, dikwels veel langer – vyf, twaalf, vyftien jaar – in eikehoutvate verouder tot dit spog met geure van appelliefie, kersie, vanielje, sitrus, heuning, droëvrugte, speserye … Die kleur en karakter kom van die hout.
Voor die brandewyn in die bottel kom, is dit die kuns van die brandewynmeester om dit te versny – brandewyne uit verskillende vate, van verskillende jare, volgens sy of haar eie besondere styl te vermeng met ’n alkoholpersentasie wat van 38 tot 43 persent per volume kan wissel.
Vir ander, kleurlose jong stooksels van vrugte of groente word die name “blits” – “witblits”, “wittetjies”, “boerblits”, “boerboel”, “hakiesdraad”, “kettingblits” – en “mampoer” gebruik. Witblits word tipies van druiwedoppe gestook, mampoer van veldvrugte, soos maroelas, mispels of moepels, of van perskes, of lemoene.
Lewenswater? Duiwelsdrank? Hoe mens ook al daarna kyk: Brandewyn is heelwat interessanter as net brannas en Coke.
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 20 November 2020 in die rubriek Woordwisseling in