Stel jou voor: ’n Stad met oop gragte vir riool. Yskaste, preserveermiddels bestaan nie. Jou bure beweer bad is gevaarlik; dit kan ’n man siek maak. Die reuk van ontlasting, ontbindende vleis, vis, groente, vrugte is alomteenwoordig, maar ook ander geure.
Langs die gragte groei lindebome met lekkerruikbloeisels. Op bleikpersele word wasgoed gewas. In huisapteke is daar allerlei balsems – harsagtige, welriekende afskeisels van bome en struike. Bokant die deur van die bruidskamer hang groen takkies mirte, lourier of roosmaryn. Die rykes dra gepoeierde pruike en smeer pommades – aromatiese, voedende olies en salwe – aan hul hare. Aan kettings en in die versierde handvatsels van wandelstokke word geurige stukkies hars gedra – van amberbome, en ook grys amber, of ambergrys, uit die ingewande van potwalvisse. Muskus is gewild – ’n olie met ’n swaar, talmende, prikkelende, soeterige geur, wat veral in die bronstyd deur kliere naby die geslagsorgane van manlike muskusherte en ander muskusdiere afgeskei word. Mirre – ‘n aromatiese, terpentynagtige gom van struike of bome van die mirrefamilie – is ’n algemene bestanddeel van parfuums en medisynes en word ook as wierook gebruik, veral in die somer, om die reuk te verdring van oorledenes wat in die kerk begrawe word. (Van die brand van wierook is die woord parfuum, wat “deur die rook” beteken, afgelei.)
In die Middeleeue is geure van die natuurlike wêreld – kruie, blomme, parfuum – ’n belangrike deel van die alledaagse bestaan. In die boek Hooglied, in die Ou Testament van die Bybel, lees ons van “nardus en saffraan, kalmoes en kaneel … elke soort wierookplant, mirre en adelhout” (Hooglied 4:14). Uit die wortelstok van die nardusplant, inheems in Noord-Indië, word ’n welriekende geurstof verkry. Die duur olie of salf wat daarvan gemaak is, kon destyds “vir meer as driehonderd denarius” verkoop word (Markus 14:5) – die ekwivalent van ’n arbeider se loon vir ’n jaar.
Saffraan, as spesery gebruik, is die gedroogde, aromatiese stampers van die saffraan- of krokusblom. Kalmoes is ’n bamboesagtige riet met ’n aangename geur. Adelhout is die naam van ’n boom, inheems in Suidoos-Asië, waarvan die sap as parfuum en vir balsem gebruik is; dus om verrotting, soos dié van lyke, te voorkom.
Nou werk ’n span wetenskaplikes uit verskillende vakgebiede om die reuke en geurpersepsies van die verlede te karteer. Navorsers van verskillende lande en taalgebiede in Europa, soos Engeland, Duitsland, Italië, Frankryk en Slowenië, want soos mense se taalgebruik verander, verander dikwels ook wat hulle eet, hulle tradisies en gewoontes, en daarmee saam die afval en reuke wat hulle produseer.
Belangrike bronne wat bestudeer word, is ou romans, reisverhale, koerante. Ook ou resepte en Latynse resepteboeke vir medisyne wat bewaar gebly het, want die sukses van brousels word dikwels gemeet aan hoe dit ruik, nes ons vandag nog kook. Dus word daar gelet op frases soos: As dit sus of so ruik, of na X of Y, dan weet jy dis gereed.
Elke geurbeskrywing word noukeurig ontleed. Algoritmes word op die ou tekste toegepas. Die volgende stap is masjienleer: waar die program nie net meer die algoritme volg nie, maar self die soektegniek begin verbeter. Rekenaars alleen kan egter nie dié werk doen nie, ook die werklike reuksintuig van lewende mense word by die navorsing betrek.
Wat ons met ons neuse waarneem, plaas ons outomaties op ’n skaal van aromaties tot stink; om verskillende “geure” (gewoonlik aangenaam) en “reuke” (gewoonlik meer neutraal of minder aangenaam) meer spesifiek te beskryf, is moeilik, sê ’n taaltegnoloog, dr. Marieke van Erp, aan Scientias.nl.
’n Mens kan sê iets ruik lekker, soet, sterk, of vreemd of sleg; dalk soos vis, kaas of ou sokkies, maar gestel dis vanielje en niemand weet wat vanielje is nie. Hoe verduidelik jy die geur? Dis soet, maar nie soos suiker nie – suiker is reukvry. Behalwe dat ruik ’n hoogs persoonlike ervaring is, is die neus, die olfaktoriese of reuksin, vir die meeste mense die mins belangrike sintuig. Hoor, sien, voel, proe is vir ons belangriker.
Daarom is geurmeesters nodig, spesialiste met ’n absolute reuksin. Volgens die werf NEMO Kennislink word omtrent drieduisend geure onderskei. ’n Geurmeester moet dié geure memoriseer en blindelings kan herken. Maar eers moet die taal van geure aangeleer word: woorde soos “aards”, “fris”, “fyn”, “groen”, “rokerig”, “soet”, “vars”, “vrugtig”; “anys-”, “hout-”, “neut-”, “metaal-”, “sitrusagtig” … Vir elke geur is daar ’n standaardmengsel of -stof wat altyd en oral dieselfde ruik, soos die organiese verbinding cis-3-heksenol vir die kenmerkende “groen” reuk van varsgesnyde gras of gekerfde groenboontjies.
In vandag se steriele omgewings wil ons onsself en ander nie ruik nie. Ongewenste aromas in die lug word met suigwaaiers verwyder. Liewer as om aan ou kos te ruik, let ons op vervaldatums. Selfs rose, eens die simbool van geurende blomme, is deur teling ontgeur. ’n Liter egte roosekstrak, gepers uit seshonderd kilogram skaars, met die hand uitgesoekte roosblare, jaag ’n mens vandag meer as vyfduisend euro (meer as R90 000) uit die sak. In parfuum en ander geurkomposisies word daarom eerder die organiese verbinding geraniol gebruik, uit verskeie bronne sinteties vervaardig om soos rose te ruik.
Om die lug te verfris word die meeste natuurlike reuke vandag chemies nageboots; niemand hoef meer muskusdiere of potvisse dood te maak nie (nes hoenders dalk ook een van die nie meer geslag hoef te word nie; hoendervleis groei deesdae in bioreaktors). Plastiek ruik soos leer, kleuters verwar uitveërs met aarbeie. Naas ’n visuele logo spog menige maatskappy deesdae met ’n geurlogo (’n “signature scent”), wat lugversorgers uitblaas sodra mense ’n gebou binnestap.
Op dieselfde manier word reuke met kunsuitstallings geïntegreer, soos tans in die Mauritshuis in Den Haag. Hier sal besoekers van Februarie af, nie op ooghoogte nie, maar op neushoogte, tot die nardussalf in die kruik van Maria Magdalena kan ruik, akkuraat volgens die resep in die Nuwe Testament van die Bybel gemeng. In die antieke tyd was nardusolie by die elite gesog. Vandag ruik mense dit glo en beskryf dit as “inderdaad besonders, maar taamlik walglik”.
In oorleg met Unesco word daar gewerk om, naas geboue en natuurgebiede, eersdaags ook geure by die lys van beskermde wêreld-erfgoed te voeg – soos dié van Japan se kersiebloeisels, in die nabyheid waarvan, op sommige plekke, geen stinkende fabrieke opgerig mag word nie.
“Met reuk kan jy mense regtig terugneem na die verlede, meer as met musiek, met taal of met die oë. Reuke wek emosies en ervarings. Dit raak mense se harte,” sê dr. Caro Verbeek, Nederland se eerste reukhistorikus.
So vind ons in 1795, Dan Sleigh se historiese roman oor die Kaap (Tafelberg, 2016), byvoorbeeld, verwysings na “die koel, vars reuk van reën in die lug”; “seereuke van bruin bamboes en nat seegras”; die “reuk van ontbinding wat jy net langs die strand kry, nooit in oop water nie”; “die mens se oerreuk van sweet en houtrook”; “vars, bakkende brood en nat dekriet”; “aandreuke van suurlemoene en groen koejawels”; “die geur van vars koffie wat op ’n tes op die herd trek”; “geurige bruin druifasyn”; tabakrook en brandewyn; “gegeurde snuif uit wit porseleindosies met blou patrone en silwerskarniertjies”; gebraaide harders; die suur reuk van klam saagsels; pik en teer; olieverf en terpentyn; “die blikkerige reuk van kantoorink”; “die geure van ou leer, perkament, vislym en stof”; “daardie reuk wat aan ’n lykhuis se mure kleef” … “Die kamer ruik na muishond en muskeljaatkat, daar is ook kooigoedbos, bloed, baie sweet, beesmis, gal, jakkals, perd, ou takkraal en natgereënde houtas in die reuk.”
Van die reuke wat in George Weideman se Draaijakkals (Tafelberg, 1999) “bybly”, is “die reuk van die velsak met die broodkoring; die reuk van die klip en die gesonde gisreuk van die meel … Die reuk van die bakoond as die brood klaar gebak is … Die reuk van die bokvet as dit intrek in die warm brood”; “die reuk van muismis in die verste gedeelte van ’n pakkamer”; “die reuk van medisyne of balsem of kruie skerp vermeng met ander reuke: vis-en-tjips, kerriepasteie, gom of lym, skaafsels, harpuis …”; “rakke wat kreun onder die gewig van boeke met die reuk van eeue tussen hul blaaie” …
Watter reuke en geure is deel van jou verlede?
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op Vrydag 4 Desember 2020 in die rubriek Woordwisseling in
Definisies van woorde kom uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.