Waarom sê ons sies vir sibbe?

Rig taalvrae of voorstelle vir hierdie rubriek aan
redakteur@afrikaans-vandag.co.za
Privaat antwoord kan ongelukkig nie. Tyd daarvoor ontbreek helaas.


L. van Wyk stuur ’n paar weke gelede ’n e-pos oor die woord sibbe: “Word dié woord erken, en wat is die enkelvoud?”

J. van Eeden skryf oor builepes: “Wat ’n vreemde woord … En hoe vreemd dat die siekte van rotte kom, maar eintlik van vlooie op die rotte, en eintlik van bakterieë op die vlooie. Amper soos in die kamer is ’n kas …”


Die woord sibbe staan al in die 13de eeu opgeteken. In Oudsaksies sibbia, Oudhoogduits sippe(e)a, Oudfries sibbe, Oudengels sibb, Goties sibja verwys dit na verwantskap, iemand se gesamentlike bloedverwante, jou familie. Later kom ’n tweede, skraler betekenis by, soos ons dit vandag in Afrikaans gebruik: om taamlik formeel na ’n broer of suster te verwys.

Sib, meervoud sibbe, of sibbe, meervoud sibbes. Wees maar net konsekwent. Die wisselvorme staan albei in die AWS as ekwivalente van Engels se sibling(s). Tog spring dié ou woord deesdae klaarblyklik ongemaklik in die oog. Gaan kyk maar in die sosiale media.

Op 26 November 2020, byvoorbeeld, maak Chris Jacobs in die Facebookgroep Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool! die volgende opmerking (en ontlok daarmee altesame 59 reaksies):

’n Woord wat swaar by my aanklank vind is sibbe. In vanoggend se Beeld word daar verwys na “Modisane, wat vier sibbe het …” ’n Sib voel vir my so al na iets wat by ’n ietermago hoort. Sommige woorde het nou eenmaal ’n slegte smaak, soos sekere medisynes ook! Sibbe proe nie vir my lekker nie.

Soortgelyke plasings is volop: “Die woord ‘sibbes’ is in Huisgenoot. Is dit nou ’n aanvaarde woord?” “Dit irriteer my grensloos.” “Dit mag taalkundig aanvaarbaar wees, maar dis vir my afgryslik.” “Klink platvloers.” “Nat vis vir my. Nat en glibberig” “Hou ook nie baie daarvan nie. Die woord laat my altyd dink hulle is nog nie gespeen van hul ma nie. Pas dus beter as hulle nog klein is.” “Sibbe is so ’n lelike woord dat hy maar regtig in die vaktaal kan bly.”

Van waar dié sterk afkeer van twee eenvoudige sillabes? “Sib”, “sibbe”. Oor die uitspraak en klank van “rib”, “ribbe”, “klip”, “klippe”, kraai geen haan nie. Maak onbekend onbemind? Of gril ons vir die sibilantheid? Wat is dit omtrent sommige woorde dat hulle mense by die sien en aanhoor dadelik afstoot?

Op 4 Februarie vra die Nederlandse Genootschap Onze Taal op sy Facebookblad:

Veel taalgebruikers ergeren zich aan woorden omdat ze stiekem niet houden van de mensen die die woorden gebruiken (denk aan kantoortaal als ‘in je kracht staan’). Maar Instagram-volgster Kerstin kan van woorden walgen vanwege de klánken ervan. Heb jij dat ook? Zo, ja welke woorden kun jij niet aanhoren?  

Hierdie plasing word tien maal gedeel en ontlok nie minder nie as 889 reaksies oor verskillende woorde wat Nederlandse taalgebruikers laat gril. Hier is ’n paar:

Ik erger me dood aan mensen die het woord ‘absoluut’ gebruiken als ze gewoon ‘ja’ kunnen zeggen.

Eigenlijk alle verkleinwoorden. Terrasje, zonnetje, mannetje, roseetje … Vreselijk.

Van het woord kids word ik lichtelijk agressief en dan vooral als het met een harde t wordt uitgesproken.

Ik heb het vooral bij een aantal Engelse woorden, bijvoorbeeld: moist of beverage. Hoewel hier ook een aantal Nederlandse woorden zag staan waarvan ik zelf niet door had dat ik daar ook een hekel aan heb. De eerste Nederlandse woord dat in mij opkwam was: kapje. Ook als samenstelling blijft het woord vreselijk.

Lees die res maar self.

Is daar spesifieke woorde wat jou laat gril?

Maar terug na sib(be):

In ’n groot koerantkorpus van die 1990’s kom sib, sibbe, sibbes slegs 18 keer voor. In ’n veel kleiner korpus van 2015 tot 2018 reeds 120 keer. Sibbe word dus afgestof, opnuut gebruik, en nie meer net formeel nie. In vandag se gendersensitiewe samelewing vul dié woord ’n duidelike leemte. Afrikaans het geen sinoniem daarvoor nie.

So, los nou maar die fiemies. Of jy ’n sib het, of nie. Broers en susters saam is sibbe. Kort en klaar. Sê dit, skryf dit, raak daaraan gewoond.


Buil, aan die ander kant, is ewe oud, maar dié het in Afrikaans so te sê verdwyn, want vir buil, ’n “opswelling van die huid”, het ons ander woorde. Die WAT se Woordkeusegids bied onder meer aan: bult, knop, uitsteeksel, uitgroeisel, uitgroeiing, uitbulting, geswel, swelsel, bommel, tuberkel, verhewenheid, verdikking, knobbel, knokkel, knoets, …

In Ou en Middelnederlands was buil onderskeidelik bula en bule; in Oudengels byle, Oudsaksies bula, Oudhoogduits bulla, Oudnoors bóla, Oudfries bele … In Afrikaans ken ons buil net nog in builepes, volgens die WAT ’n pessiekte “gekenmerk deur boosaardige buile waarmee die liggaam bedek word”.

Die WAT bied van buil ook ’n tweede betekenis, naamlik buil as ’n “silindervormige bakkerswerktuig om meel te sif” – ’n sif gevorm met ’n buildoek, ’n gaasdoek. Meel met die buil sif. Gebuilde meel.  Maar wie ken dit nog?

Uit die eerste buil het bult ontwikkel. Later het die /b/-klank ’n /p/ geword: in Nederlands puilen, Afrikaans puil, “om te swel”. Dié is ook lankal vergete, maar uit dié grondvorm met /p/ kom en gebruik ons nog peul en uitpeul.

So verander die vorm en uitspraak van woorde oor tyd heen. Meestal is ons onbewus daarvan. Soms wil ons ons daarteen verset. Maar vir so lank daar mense is wat praat, duur die proses. Slegs die mens is tot dié wonder in staat. Daarin lê die magie, die magic van taal.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 12 Februarie 2021 in die rubriek Woordwisseling in

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *