Altesaam 600. Soveel keer staan “kewer” in die eerste 14 dele van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Móói, dié insekname. Nie direkte oornames of bloot leenvertalings nie, maar ook eg Afrikaanse skeppings wat van fyn waarneming getuig.
Die WAT definieer die orde Coleoptera, skildvleueliges of skildvlerkiges, as insekte met bytende monddele en voorvlerke wat tot horingagtige vlerkbedekkings of dekskilde gewysig is. Volgens Wikipedia is tot 40 persent van alle insekte kewers. Tot ’n miljoen verskillende spesies, word geskat, waarvan net sowat 300 000 – in Suid-Afrika 50 000 – reeds beskryf is. Bas- en speldegatkewers, boktorre, dwaal-, glans- en grootkaakkewers, houtpoeierkewers, kniptorre en draadwurms, mierneskewers, miskruiers, pragkewers, rondekophoutboorders, snuit- en tierkewers, toktokkies, vuurvliegies en glimwurms, waterhondjies, en waterkewers is van die families wat genoem word.
Ek voel die kewers in my skedel knaag
en die knaagsels
in die holtes van my voete val
– Marlene van Niekerk, “Madame marnette”
Van die vlieënde soorte word “torre” genoem. Soos die geelbruin, wollerige (boer)kainja, wat in die grond woon. Kainjas kom saans uit, deur lig aangetrek.
Die duinhardlopertjie is ’n hardloperbesie, ook bekend as “sibbie”. Die askleurige oudak, weer, loop stadig, in warm streke op onweersdae, omtrent so groot soos ’n toktokkie, maar met ’n platterige, klewerige rug waaraan stof en gronddeeltjies vasklou. Vir kewers met so ’n “pak” op die rug staan in die WAT verskillende volksname opgeteken: kombers, ouvelskoen, pakos(sie), paksaal, reëngogga, skimmeljan(tjie), -japie, soutpannetjie, veldskoonmaker, vermuftejan … Fytjie-abbakaros, omdat die skimmeldons aan die velkombers laat dink waarin ’n vrou haar baba op haar rug vasbind.
Die donderbesie, ’n klein, vlieënde kewer met ’n harde dop, word ook die “dondervliegie”, “onweersbesie” of “onweersvliegie” genoem. Wanneer donderbesies saans by Philippolis rondvlieg, sê die mense, kom dit reën.
Die ghannaghoetjie, blinkswart, plat, klop-klop met sy gepunte agterlyf teen die grond. Die wit kolletjie onder sy maag, sê party, is ’n briefie. In Riversdal, Mosselbaai, George is hy die briewedraertjie, die padlopertjie, doodhouertjie, doodhoubesie, dooitoktokkie, want raak jy aan hom, hou hy hom dood. Anders as die bombardeerkewer, die loopkewer met die volksnaam “poepga(a)tjie”, wat hom verdedig deur met ’n hoorbare knal druppels uit sy agterlyf te stoot.
Verskillende soorte klein, helderkleurige, min of meer halfbolvormige kewers wat op groente en ander plante hou, heet “bontgroenteskilpadjies”, soos die ladybird, of (onse)liewe(n)heersbesie, wat ook ander name het: blomskilpadjie, bontbesie, boomskilpadjie, bontrokskilpadjie, bontrokkie, botterbesie, botterskilpadjie, pampoenbesie … Vir die lieweheersbesie kom uit Burgersdorp die naam “giekergaker”.
Die briljantkewer, ook diamant- of juweelkewer, se borsstuk is fluweelswart met ’n goudgroen groef in die middel. Op sy dekskilde skitter riffies soos juwele. Klein, metaalgroen-goue kewertjies heet goudhaantjies. Die larweagtige glimkewerwyfie se agterlyf gee lig.
Malkopkewer, geelbonttorretjie, kanferfoeliegalmaker, gaffelneus-, renosterkewer.
Die goliat- en herculeskewer, miskruiers van die skarabeefamilie, is die grootstes.
Vir die antieke Egiptenare was die skarabee heilig:
die klein kewer
wat belas met die misballas
dit kruie, soos ’n aardkloot voor hom uitstoot,
dit bêre in die aardskoot vir weer begin – nuwe lewe wat uit die verrotting klim
– Trienke Laurie, “Sirkel”
Hoewel daar na kewers in die volksmond soms as besies verwys word, is besies meer bepaald insekte wat tot die orde Hemiptera of Halfvleueliges behoort. Soos die boomspringer, wat vinnig kan spring en in bome hou waarvan hy die sap uitsuig.
Op vrugtebome en wingerde, in die Wes-Kaap veral, is die metaalagtig glinsterende bloubesie ’n oorlas.
Bekend vir die aanhoudende, deurdringende geluid van die mannetjie op warm dae is die boomsingertjie of sonbesie. Boombesie, doringbesie, nuwejaarsbesie, somerbesie, sonroepertjie heet hy ook, en in Boshof: gous.
Die duikerwants is ’n waterbesie wat net nou en dan na die oppervlak kom om vars lug in te neem, volgens die WAT ’n “skitterende, witagtige waterwants wat gevoelig kan steek, met lang agterpote wat hy as roeispane gebruik”. Sy ander naam is “bootsmannetjie”.
In Moorreesburg, Willowmore, Schweizer-Reneke word klein, vaal hardedopbesies “hondjies” genoem.
Van die harugwa, ’n soort stinkbesie, kom daar in Oos-Afrika, in die suide van Zimbabwe en in dele van Namibië, gedurende sekere jaargetye, soms glo duisende voor. So baie dat hulle vir die plaaslike inwoners as voedselbron dien.
“In baie kulture in Sentraal- en Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië is dit algemeen. Waar insekte oorvloedig voorkom, word hulle gewoonlik geëet,” sê Joanne Techow, wat in Gauteng met insekte boer.
“Moet ’n mens jou neus toeknyp terwyl jy stinkkewers eet?” vra Huisgenoot.
“Wanneer jy dit gekook het, verdwyn die stank,” sê Joanne. “Jy rooster en droog dit dan gewoonlik.”
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 12 Maart 2021 in die rubriek Woordwisseling in