Daar is kapers op die kus. Daar is gevaar dat iets van ons weggeneem word.
’n Kaper, sê die WAT, is iemand wat kaap, wat kapery beoefen. Sowel in die betekenis “seerowery” as “met geweld – óf stilletjies, slinks – iets vat”. Kapers betaal nie. Ongeag of hulle dit kan bekostig, of nie. Wat hulle wil hê, begeer, eien hulle hulself eenvoudig toe. Kapers is diewe.
Sinonieme vir seerower, kaper, is vrybuiter en boekanier.
“Boekanier” (klem op die laaste lettergreep) adem romantiek, het ek eens gedink. Dit roep ’n vervloë wêreld op van wiegende, krakende seilskepe; ’n deinende oseaan; avontuur; verborge skatte; pikbroeke met houtbene; waaghalsige seegevegte; pratende papegaaie; oogklappe.
Harde feite skets die ware prentjie: Rowery gedy. Ter see én op land. Kapings, kapers, van allerlei soorte, in verskillende gedaantes, berokken eerlike landsburgers, hier, onberekenbare skade.
Het dit ’n geval van “monkey see, monkey do” geword? Om dié ou Engelse spreekwoord in aksie te sien, hoef ’n mens dalk nie verder as hierdie eie, droewe land te soek nie.
Van boekanier (uit Frans, van boucan, op sy beurt afgelei van mokaém, of mukem, ’n woord wat in Tupí-Guaraní, ’n inheemse Suid-Amerikaanse taal, “gerookte vleis” beteken) gee die WAT vier betekenisse: 1. Seerower aan die kuste van Wes-Indië. 2. Seerower in die algemeen. 3. Amerikaanse wildjagter. 4. Wilddief. Toe ek onlangs iemand (sonder enige sweem van sentimentele romantiek) ’n vyfde betekenis hoor byvoeg – dié van “boekkaper”, het ek gedink: Hoe gepas.
Vir ons wat voortbeur met taal en stories, daarmee ons brood verdien: van mediahuise en uitgewers tot joernaliste, skrywers, vertalers, teksredakteurs, proeflesers; vir lesers, luisteraars, kykers steeds gehalte probeer skep, verpak, versprei; ontwerpers, illustreerders, setters, drukkers, pakhuise, boekhandelaars, -voorlesers, programmeerders, webmeesters, administratiewe personeel, boontjietellers, skoonmakers, ál die salaristrekkers in dié (vir Afrikaans krimpende, krimpende) bedryf. Vir ons, in ons boekies, is boekaniers bliksems – in elke, onverbloemde letter van dié woord.
Noudat nuwe ekspedisies eindelik die lig sien – ekspedisies téén boekstelers en elke ander vermaledyde soort kaper (vermaledyde, ja) in hierdie land – is ons verheug.
Dra jy kennis van e-boeke wat onwettig versprei word? Laat weet die uitgewer. Stuur skermskote van die steler(s) én die deler(s). Die spreekwoord sê: Die deler is so skuldig soos die steler. En die ontvanger? En die een wat rugdraai, anderpad kyk? Alle inligting word as vertroulik gehanteer.
Is jy ’n vrybuiter, of ’n papskepper op een van WhatsApp se sousbote, wat deel in die buit en op sosiale media jou medepligtigheid met agteroorsalto’s en kaperjolle probeer regverdig en goedpraat?
Kaperjol (WAT, bet. 2 b): “Ontwykende optrede (deur ’n persoon of groep) wanneer in ’n hoek gedryf, byvoorbeeld deur allerlei verskonings aan te voer en rats van die een na die ander aanvals- of verdedigingsplan oor te gaan.”
Wel, ek hoop jy word geprosedeer vir jou baadjie. Hou jou broek klaar vir die onkoste.
Hierdie rubriek het op 2 Junie in Beeld en op Netwerk24 verskyn.
Jana Luther is ’n taalpraktisyn en woordeboekmaker; haar menings is haar eie.