Wakkerblywraak

Skryf iemand op Twitter: In Chinees is daar ’n woord – 報復性熬夜. Google vertaal dit as die “wraak om laat op te bly”. Sal ons sê “wakkerblywraak”? Dié verskynsel dat mense wat nie beheer het oor hoe hulle lewe bedags verloop nie, saans weier om vroeg te gaan slaap, want eers in die middernagtelike ure herwin hulle hul gevoel van vryheid.

Te oordeel na die kommentaar lyk dit of baie mense dié gevoel verstaan. Wanneer huis, pondok, werkhok, sithok, slaaphok word en peste en ellende soos ’n wolf aan die deur kom snuffel, is wakker bly dalk ’n natuurlike reaksie. Trouens, in Middelnederlands het “wacker” nie bloot “nieslapend” beteken nie, maar “waaksaam, oplettend”, soos iemand wat wag hou.

Wie in die holste van die nag, in die nanag, nog wakker is, hetsy vir werk of plesier, noem die Woordeboek van die Afrikaanse Taal ’n “nagbraker”. ’n Nagbraker braak, ploeg, as ’t ware die nag om. “Braak” het ook ’n ander betekenis, ja, maar hier gaan dit oor naguile. Nagvoëls en naglopers aan wie die WAT Ouma se waarskuwings herhaal: Saans gousblom, smôrens molshoop. Saans kaatjie van die baan, soggens dooi bobbejaan. Grootoog snags, bedroë bedags. Want wie slaap nie ag nie, raak die tweede betekenis van “wakker” – “lewendig, energiek, entoesiasties” – kwyt.

Wanneer ander so op en wakker soos ’n haas hulle dagtaak-dagwaak begin, sit die nagwolf met slaapoë en ’n slaapbevange brein knikkop deur die mis in sy slaapgewaad, want te min slaap maak die gees dof. ’n Slaapkop deug nie vir fyn dink, waarneem, onderskei, oordeel, verstaan nie. Navorsers sê boonop: Genoeg slaap ondersteun die immuunstelsel, wat die risiko van infeksie verminder en die uitkoms verbeter vir mense wat ’n virus moet beveg. Andersom: Te min slaap verswak jou verdedigingstelsel en maak jou kwesbaar.

Of jy nou doesel, dommel, dut, sluimer, saam met die hoenders inkruip, ’n uiltjie knip, ’n middagslapie vang; die WAT bied ’n ruim keuse. Slaap is medisyne. Drink ’n slaapdop, luister na ’n slaapliedjie, ruil jou smoelkappie vir ’n slaapmasker, sit jou slaapmus op, drink ’n slaappil as jy moet, want slaapdeprivasie lei tot slaapskuld; daardie toestand waar ’n mens nooit meer uitgerus en verkwik voel nie, maar heeldag hipnagogies, in ’n toestand tussen wakker wees en slaap, deurbring.

“Nou vir lekker slaap en môre gesond opstaan,” het ’n Nederlandse TV-aanbieder altyd gesê, soos Joodse ma’s, eens, wanneer hulle saans hul kinders in die bed sit.

Uit Nederlands kry ons ook die uitdrukking: Snags moet jy slaap soos ’n roos. Soos ’n kind met ’n blos op die wange.

Vandaar Paul van Ostaijen se onvergeetlike “Berceuse nr. 2”, in Vlaams:

             Slaap als een reus 
slaap als een roos
slaap als een reus van een roos
reuzeke
rozeke
zoetekoeksdozeke
doe de deur dicht van de doos
Ik slaap.

Vertaal dit ’n bietjie in Afrikaans.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 3 Julie 2020 in