{"id":498,"date":"2020-12-04T09:51:41","date_gmt":"2020-12-04T09:51:41","guid":{"rendered":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/?p=498"},"modified":"2021-02-04T04:24:17","modified_gmt":"2021-02-04T04:24:17","slug":"polfyntjies-vir-die-ruik","status":"publish","type":"post","link":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/2020\/12\/04\/polfyntjies-vir-die-ruik\/","title":{"rendered":"Polfyntjies vir die ruik"},"content":{"rendered":"\n<div class=\"wp-block-image\"><figure class=\"aligncenter size-medium\"><img loading=\"lazy\" decoding=\"async\" width=\"300\" height=\"197\" src=\"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-content\/uploads\/2020\/12\/ruik-300x197.jpg\" alt=\"\" class=\"wp-image-499\" srcset=\"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-content\/uploads\/2020\/12\/ruik-300x197.jpg 300w, https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-content\/uploads\/2020\/12\/ruik.jpg 730w\" sizes=\"auto, (max-width: 300px) 100vw, 300px\" \/><\/figure><\/div>\n\n\n\n<p><a href=\"https:\/\/www.bbc.co.uk\/programmes\/p00g87q0\" target=\"_blank\" rel=\"noreferrer noopener\" aria-label=\" (maak in 'n nuwe oortjie oop)\">Stel jou voor<\/a>: \u2019n Stad met oop gragte vir riool. Yskaste, preserveermiddels bestaan nie. Jou bure beweer bad is gevaarlik; dit kan \u2019n man siek maak. Die reuk van ontlasting, ontbindende vleis, vis, groente, vrugte is alomteenwoordig, maar ook ander geure. <\/p>\n\n\n\n<p>Langs die gragte groei lindebome met lekkerruikbloeisels. Op bleikpersele word wasgoed gewas. In huisapteke is daar allerlei balsems \u2013 harsagtige, welriekende afskeisels van bome en struike. Bokant die deur van die bruidskamer hang groen takkies mirte, lourier of roosmaryn. Die rykes dra gepoeierde pruike en smeer pommades \u2013 aromatiese, voedende olies en salwe \u2013 aan hul hare. Aan kettings en in die versierde handvatsels van wandelstokke word geurige stukkies hars gedra \u2013 van amberbome, en ook grys amber, of ambergrys, uit die ingewande van potwalvisse. Muskus is gewild \u2013 \u2019n olie met \u2019n swaar, talmende, prikkelende, soeterige geur, wat veral in die bronstyd deur kliere naby die geslagsorgane van manlike muskusherte en ander muskusdiere afgeskei word. Mirre \u2013 &#8216;n aromatiese, terpentynagtige gom van struike of bome van die mirrefamilie \u2013 is \u2019n algemene bestanddeel van parfuums en medisynes en word ook as wierook gebruik, veral in die somer, om die reuk te verdring van oorledenes wat in die kerk begrawe word. (Van die brand van wierook is die woord <em>parfuum<\/em>, wat \u201cdeur die rook\u201d beteken, afgelei.) <\/p>\n\n\n\n<p>In die Middeleeue is geure van die natuurlike w\u00eareld \u2013 kruie, blomme, parfuum \u2013 \u2019n belangrike deel van die alledaagse bestaan. In die boek Hooglied, in die Ou Testament van die Bybel, lees ons van \u201cnardus en saffraan, kalmoes en kaneel &#8230; elke soort wierookplant, mirre en adelhout\u201d (Hooglied 4:14). Uit die wortelstok van die nardusplant, inheems in Noord-Indi\u00eb, word \u2019n welriekende geurstof verkry. Die duur olie of salf wat daarvan gemaak is, kon destyds \u201cvir meer as driehonderd denarius\u201d verkoop word (Markus 14:5) \u2013 die ekwivalent van \u2019n arbeider se loon vir \u2019n jaar. <\/p>\n\n\n\n<p>Saffraan, as spesery gebruik, is die gedroogde, aromatiese stampers van die saffraan- of krokusblom. Kalmoes is \u2019n bamboesagtige riet met \u2019n aangename geur. Adelhout is die naam van \u2019n boom, inheems in Suidoos-Asi\u00eb, waarvan die sap as parfuum en vir balsem gebruik is; dus om verrotting, soos di\u00e9 van lyke, te voorkom. <\/p>\n\n\n\n<p>Nou werk \u2019n span wetenskaplikes uit verskillende vakgebiede om die reuke en geurpersepsies van die verlede te karteer. Navorsers van verskillende lande en taalgebiede in Europa, soos Engeland, Duitsland, Itali\u00eb, Frankryk en Sloweni\u00eb, want soos mense se taalgebruik verander, verander dikwels ook wat hulle eet, hulle tradisies en gewoontes, en daarmee saam die afval en reuke wat hulle produseer. <\/p>\n\n\n\n<p>Belangrike bronne wat bestudeer word, is ou romans, reisverhale, koerante. Ook ou resepte en Latynse resepteboeke vir medisyne wat bewaar gebly het, want die sukses van brousels word dikwels gemeet aan hoe dit ruik, nes ons vandag nog kook. Dus word daar gelet op frases soos: As dit sus of so ruik, of na X of Y, dan weet jy dis gereed. <\/p>\n\n\n\n<p>Elke geurbeskrywing word noukeurig ontleed. Algoritmes word op die ou tekste toegepas. Die volgende stap is masjienleer: waar die program nie net meer die algoritme volg nie, maar self die soektegniek begin verbeter. Rekenaars  alleen kan egter nie di\u00e9 werk doen nie, ook die werklike reuksintuig van lewende mense word by die navorsing betrek.<\/p>\n\n\n\n<p>Wat ons met ons neuse waarneem, plaas ons outomaties op \u2019n skaal van aromaties tot stink; om verskillende \u201cgeure\u201d (gewoonlik aangenaam) en \u201creuke\u201d (gewoonlik meer neutraal of minder aangenaam) meer spesifiek te beskryf, is moeilik, s\u00ea \u2019n taaltegnoloog, dr. Marieke van Erp, aan <a href=\"https:\/\/www.scientias.nl\/onderzoek-naar-de-geuren-van-het-verleden-een-drupje-eau-de-beerput\/\">Scientias.nl<\/a>.<\/p>\n\n\n\n<p>\u2019n Mens kan s\u00ea iets ruik lekker, soet, sterk, of vreemd of sleg; dalk soos vis, kaas of ou sokkies, maar gestel dis vanielje en niemand weet wat vanielje is nie. Hoe verduidelik jy die geur? Dis soet, maar nie soos suiker nie \u2013 suiker is reukvry. Behalwe dat ruik \u2019n hoogs persoonlike ervaring is, is die neus, die olfaktoriese of reuksin, vir die meeste mense die mins belangrike sintuig. Hoor, sien, voel, proe is vir ons belangriker.<\/p>\n\n\n\n<p>Daarom is geurmeesters nodig, spesialiste met \u2019n absolute reuksin. Volgens die werf <a href=\"https:\/\/www.nemokennislink.nl\/publicaties\/geuren-door-de-eeuwen-heen\/\">NEMO Kennislink<\/a> word omtrent drieduisend geure onderskei. \u2019n Geurmeester moet di\u00e9 geure memoriseer en blindelings kan herken. Maar eers moet die taal van geure aangeleer word: woorde soos \u201caards\u201d, \u201cfris\u201d, \u201cfyn\u201d, \u201cgroen\u201d, \u201crokerig\u201d, \u201csoet\u201d, \u201cvars\u201d, \u201cvrugtig\u201d; \u201canys-\u201d, \u201chout-\u201d, \u201cneut-\u201d, \u201cmetaal-\u201d, \u201csitrusagtig\u201d &#8230; Vir elke geur is daar \u2019n standaardmengsel of -stof wat altyd en oral dieselfde ruik, soos die organiese verbinding <em>cis<\/em>-3-heksenol vir die kenmerkende \u201cgroen\u201d reuk van varsgesnyde gras of gekerfde groenboontjies.<\/p>\n\n\n\n<p>In vandag se steriele omgewings wil ons onsself en ander nie ruik nie. Ongewenste aromas in die lug word met suigwaaiers verwyder. Liewer as om aan ou kos te ruik, let ons op vervaldatums. Selfs rose, eens die simbool van geurende blomme, is deur teling ontgeur. \u2019n Liter egte roosekstrak, gepers uit seshonderd kilogram skaars, met die hand uitgesoekte roosblare, jaag \u2019n mens vandag meer as vyfduisend euro (meer as R90&nbsp;000) uit die sak. In parfuum en ander geurkomposisies word daarom eerder die organiese verbinding geraniol gebruik, uit verskeie bronne sinteties vervaardig om soos rose te ruik. <\/p>\n\n\n\n<p>Om die lug te verfris word die meeste natuurlike reuke vandag chemies nageboots; niemand hoef meer muskusdiere of potvisse dood te maak nie (nes hoenders dalk ook een van die nie meer geslag hoef te word nie; hoendervleis groei deesdae in bioreaktors). Plastiek ruik soos leer, kleuters verwar uitve\u00ebrs met aarbeie. Naas \u2019n visuele logo spog menige maatskappy deesdae met \u2019n geurlogo (\u2019n \u201csignature scent\u201d), wat lugversorgers uitblaas sodra mense \u2019n gebou binnestap. <\/p>\n\n\n\n<p>Op dieselfde manier word reuke met kunsuitstallings ge\u00efntegreer, soos tans in die Mauritshuis in Den Haag. Hier sal besoekers van Februarie af, nie op ooghoogte nie, maar op neushoogte, tot die nardussalf in die kruik van Maria Magdalena kan ruik, akkuraat volgens die resep in die Nuwe Testament van die Bybel gemeng. In die antieke tyd was nardusolie by die elite gesog. Vandag ruik mense dit glo en beskryf dit as \u201cinderdaad besonders, maar taamlik walglik\u201d. <\/p>\n\n\n\n<p>In oorleg met Unesco word daar gewerk om, naas geboue en natuurgebiede, eersdaags ook geure by die lys van beskermde w\u00eareld-erfgoed te voeg \u2013 soos di\u00e9 van Japan se kersiebloeisels, in die nabyheid waarvan, op sommige plekke, geen stinkende fabrieke opgerig mag word nie. <\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMet reuk kan jy mense regtig terugneem na die verlede,\nmeer as met musiek, met taal of met die o\u00eb. Reuke wek emosies en ervarings. Dit\nraak mense se harte,\u201d s\u00ea dr. Caro Verbeek, Nederland se eerste reukhistorikus. <\/p>\n\n\n\n<p>So vind ons in <em>1795<\/em>, Dan Sleigh se historiese roman oor\ndie Kaap (Tafelberg, 2016), byvoorbeeld, verwysings na \u201cdie koel, vars reuk van\nre\u00ebn in die lug\u201d; \u201cseereuke van bruin bamboes en nat seegras\u201d; die \u201creuk van\nontbinding wat jy net langs die strand kry, nooit in oop water nie\u201d; \u201cdie mens\nse oerreuk van sweet en houtrook\u201d; \u201cvars, bakkende brood en nat dekriet\u201d; \u201caandreuke\nvan suurlemoene en groen koejawels\u201d; \u201cdie geur van vars koffie wat op \u2019n tes op\ndie herd trek\u201d; \u201cgeurige bruin druifasyn\u201d; tabakrook en brandewyn; \u201cgegeurde\nsnuif uit wit porseleindosies met blou patrone en silwerskarniertjies\u201d;\ngebraaide harders; die suur reuk van klam saagsels; pik en teer; olieverf en\nterpentyn; \u201cdie blikkerige reuk van kantoorink\u201d; \u201cdie geure van ou leer,\nperkament, vislym en stof\u201d; &#8220;daardie reuk wat aan \u2019n lykhuis se mure kleef\u201d\n&#8230; \u201cDie kamer ruik na muishond en muskeljaatkat, daar is ook kooigoedbos,\nbloed, baie sweet, beesmis, gal, jakkals, perd, ou takkraal en natgere\u00ebnde\nhoutas in die reuk.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Van die reuke wat in George Weideman se <em>Draaijakkals <\/em>(Tafelberg,\n1999) \u201cbybly\u201d, is \u201cdie reuk van die velsak met die broodkoring; die reuk van\ndie klip en die gesonde gisreuk van die meel &#8230; Die reuk van die bakoond as\ndie brood klaar gebak is &#8230; Die reuk van die bokvet as dit intrek in die warm\nbrood\u201d; \u201cdie reuk van muismis in die verste gedeelte van \u2019n pakkamer\u201d; \u201cdie\nreuk van medisyne of balsem of kruie skerp vermeng met ander reuke:\nvis-en-tjips, kerriepasteie, gom of lym, skaafsels, harpuis &#8230;\u201d; \u201crakke wat\nkreun onder die gewig van boeke met die reuk van eeue tussen hul blaaie\u201d &#8230; &nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Watter reuke en geure is deel van jou verlede? <\/p>\n\n\n\n<p class=\"has-text-align-right\"><em>\u2019n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op Vrydag 4 Desember 2020 in die rubriek <\/em>Woordwisseling<em> in<\/em> <img loading=\"lazy\" decoding=\"async\" width=\"120\" height=\"50\" class=\"wp-image-257\" style=\"width: 120px;\" src=\"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-content\/uploads\/2020\/01\/Beeld.jpg\" alt=\"\"><br><em>Definisies van woorde kom uit die<\/em> <a rel=\"noreferrer noopener\" aria-label=\"Woordeboek van die Afrikaanse Taal (maak in 'n nuwe oortjie oop)\" href=\"http:\/\/woordeboek.co.za\/\" target=\"_blank\">Woordeboek van die Afrikaanse Taal<\/a>. <\/p>\n","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>Stel jou voor: \u2019n Stad met oop gragte vir riool. Yskaste, preserveermiddels bestaan nie. Jou bure beweer bad is gevaarlik; dit kan \u2019n man siek maak. Die reuk van ontlasting, ontbindende vleis, vis, groente, vrugte is alomteenwoordig, maar ook ander geure. Langs die gragte groei lindebome met lekkerruikbloeisels. Op bleikpersele word wasgoed gewas. In huisapteke &hellip; <a href=\"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/2020\/12\/04\/polfyntjies-vir-die-ruik\/\" class=\"more-link\">Continue reading <span class=\"screen-reader-text\">Polfyntjies vir die ruik<\/span><\/a><\/p>\n","protected":false},"author":1,"featured_media":0,"comment_status":"closed","ping_status":"closed","sticky":false,"template":"","format":"standard","meta":{"footnotes":""},"categories":[1],"tags":[48,47,49,50,21,4],"class_list":["post-498","post","type-post","status-publish","format-standard","hentry","category-uncategorized","tag-geur","tag-reuk","tag-reuksin","tag-ruik","tag-taal","tag-woordeskat"],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/498","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-json\/wp\/v2\/posts"}],"about":[{"href":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-json\/wp\/v2\/types\/post"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-json\/wp\/v2\/users\/1"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=498"}],"version-history":[{"count":7,"href":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/498\/revisions"}],"predecessor-version":[{"id":509,"href":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/498\/revisions\/509"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=498"}],"wp:term":[{"taxonomy":"category","embeddable":true,"href":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-json\/wp\/v2\/categories?post=498"},{"taxonomy":"post_tag","embeddable":true,"href":"https:\/\/www.afrikaans-vandag.co.za\/aktueel\/wp-json\/wp\/v2\/tags?post=498"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}