Koronaparanoia baar kômmintaar

Gaan na sacoronavirus.co.za vir inligting oor die koronavirus in Suid-Afrika.
koronaparanoia
Bly op ’n afstand en bewaar die deur van jou lippe.

Oordryf, ww., het oordryf; oordrewe: ’n Abnormaal vergrote weergawe van iets gee of iets sodanig voorstel dat dit verdraai voorkom of erger klink as wat dit werklik is: ’n Oordrewe bewering, gerug, stelling, voorspelling. » Alles wat daar gesê word, kon jy natuurlik nie as waarheid aanneem nie, want die meeste mense oordryf hul saak” (Woordeboek van die Afrikaanse Taal).

Wanneer nuus en gerugte, fopnuus en pampoenspoke die kuberruim vul: Wat is kopspeld, wat is koevoet?

Die wêreld is op hete kole. Inligting en waninligting, waarheid en verdigsel is hout op die vuur. Ons staar stip na die vlamme. Vuurwarm nuus hou ons vasgenael. Ook dié met hipokonders. Die swaarmoediges. Hulle wat uit gewoonte die pap dik aanmaak, die brood dik opsmeer, op die swarigheid teer. Die goed- en kleingelowiges. Die soetkoeketers wat hulle bittermakrolle vir koekies, knolle vir sitroene, perdedrolle vir vye laat verkoop, wat eet wat ook al aan hulle opgedis word, van eersteklas spyse tot koue pampoen. Die alarmblasers, nuusdraers, selfaangestelde wagters op die mure. Die aandikkers, bylassers …

Elkeen giet sy/haar bietjie olie op die vuur en blaas die vlamme aan.

Dat dié yster gesmee gaan word vir solank dit warm is, daarvan kan ons seker wees – ook dat dit nog lank gaan wees.

Watter kwaad kan dit tog doen? Feite op te pof, die hoorder, leser se verbeelding beter te pak? Of so ’n bietjie te chargeer, oordryf, die banges vir die gek te hou, kluijies te bak om hul vrese belaglik te maak?

Dit kook. Dit borrel, prut. Sake staan sus, vandag so.

G’n wonder ’n nuusverslaggewer laat hoor nie: “Tussen slim mense wat fake news share en Afrikaanse nuuskommentators is ek gereed om weggeraap te word.”

Vir argeloos met feite omgaan, is nou die verkeerdste tyd.

So. Sak, Sarel. Stadig oor die kole. Hou kop. Moenie dat foppers, wolfskreërs en kwaksalwers jou bedot, jou dwaalmaak, jou om die bos lei, vir jou ore aansit, jou aan die neus rondlei, vir jou ’n bril opsit nie. Moenie dat vals nuus ons in die boontjies kry, ons in die bottel steek, ons in die emmer sit, ons ’n rad voor die oë draai nie.

In die land van die blindes is Eenoog koning.

Al die oningeligte, ondeurdagte “kômmintaar” van weetalle wat nie lees nie, papegaaibekke wat praat-praat-praat, maar nie hot van haar ken nie, heeltyd aan die kwas bly trek, die klok hoor lui, maar self nie duidelikheid het oor waar die klepel hang nie …

Hou verby. Was liewer jou hande, bly op ’n veilige afstand en bewaar die deur van jou lippe, soos die Bybel sê. Moenie van kopspelde koevoete maak nie. Al baar die molshoop ook ’n berg.

Covid-19 is ’n werklikheid, maar koronaparanoia is ’n siekte wat ons liewer wil vermy.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 13 Maart 2020 in die rubriek Woordwisseling in