’n Oefening in geduld

“Wat is jou woord van die week?” vra ’n kollega.

Uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal kies ek twee: jammerlap en enerveer.

As verkleinwoord ken party van ons dalk nog ’n jammerlappie: Die klam vadoekie wat ’n mens soms aan tafel gebruik om jou hande af te vee. Byvoorbeeld, sê die WAT, “by die eet van vrugte, of die afkluif van ’n beentjie”. Ander name vir so ’n jammerlappie is glo desnoodsie, of klamtante, wat ook na ’n waslap kan verwys: “Anna, gaan was jou; gebruik jou jammerlappie.”

By Mosselbaai en in die Vrystaat is ’n jammerlap ’n sukkelaar, meestal iemand wat vuil en onnet is – ’n lunsriem.

Maar jammerlap het nog twee betekenisse:

As selfstandige naamwoord beteken jammer, sonder meervoud, “rampspoed”, “leed”, ’n toestand van groot ellende. As jy vir iemand jammer is, het jy met hom of haar medelye, meegevoel. As iets jammer is, is dit te betreur.

Oorspronklik was ’n jammerlap daardie dun band van lanfer, ’n deursigtige, kreukelrige swart gaasstof, wat iemand om sy hoed of arm, of ’n vrou aan haar rok gedra het as teken van rou.

Wanneer ek soggens die nuutste statistieke lees, krul my hart soos lanfer inmekaar. Dan wil ek ’n jammermantel om my skouers hang, ’n jammerkombers oor my kop trek.

Ek is nie alleen nie. Die laaste ding wat ’n mens nodig het, as jy só voel, is nóg jammerlappe. Maar ’n jammerlap is laastens, ook nog: “iemand wat altyd iets het om oor te kla”.

In die sosiale media is hulle maklik uit te ken, dié jammerlappe. Onderaan berigte is hulle die spreekwoordelike stuurlui aan wal wat sonder enige positiewe, konstruktiewe, innoverende eie woord of bydrae die bromwerk doen, die taak van kla en berispe op hulle neem en oor enigiets, alles, van anglisismes tot doeninge en latinge van ministers, huilkore begin.

In die WAT staan, uit Nederlands, nog die woord drein, wat ons nie meer ken nie: “om huilerig op iets aan te dring; om lastig te wees deur huilerig te kla”. Sinonieme vir dié drein is mor, neul, seur, sanik; “om te kerm soos ’n hond (kat) oor ’n derm”, “om ’n vloermoer te gooi”.

 So afmattend soos die nimmereindigende gekap, gesaag en getimmer van die buurman in sy grendelwoonstel bokant myne, so enerverend is die gepruttel van ’n jammerlap oor ’n glas wyn.

Enerveer, sê die WAT, is “afmattend op die senuwees werk; iemand sy/haar veerkrag ontneem; ontsenu, uitput”. Ja, ons leef in ’n enerverende tyd. En kla is, net soos spog, ’n streling vir die ego, het ene Jannie Kruger gesê.

In ’n wêreld waar miljoene rede het tot lanfer dra, is jammerlappe helaas ook -balies en -balke (grensbalies, tjankbalies, huilebalke) by wie die WAT se tweede betekenis van geduld ontbreek: “Die vermoë om te wag sonder om te kla en om sonder rusteloosheid, oplopendheid of prikkelbaarheid uitstel of vertraging van ’n begeerte te verdra.”

Vir dié jammerlappe, en dié wat deur die genade nog uitgespaar is, word 2020 – die eerste jaar van “die ernstigste humanitêre en ekonomiese krisis van ons leeftyd” – ook ’n oefening in geduld.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 17 Julie 2020 in die rubriek Woordwisseling in