Die rooi veer is verrinneweer

Druk ’n spiraalveer plat. As jy die druk wegneem, spring die veer na sy oorspronklike vorm terug. Dié eienskap waaroor sommige liggame beskik, om ná drukking, draaiing, rekking, wringing, tot hul oorspronklike toestand terug te keer, noem ons “veerkrag”. In dié tyd van antie Rona word dit gereeld as metafoor gebruik.

Om op vlak 3, van die derde golf, uit fase 2, 3, 4 telkens terug te bons, verg veerkrag. Soos dié van gesondheidswerkers wat pasiënt ná pasiënt ná pasiënt bly versorg, gasvryheidsondernemings wat kreatiewe oplossings bedink om hulle besighede aan die gang te hou, boere wat planne maak, hulle oënskynlik nie maklik laat enerveer nie (van Latyn “enervare”, wat letterlik beteken “om die senu’s af te sny”).

In die woorde van I.D. du Plessis:

Die rooi veer is verrinneweer
maar staan nog met ’n boog.

Hoekom druk die lewe ander se vere dan so plat?

In die sielkunde word dit al lank ondersoek.

Met baie mense gebeur daar in hulle kinderjare nare dinge. Sommige verwerk dit, kom as volwassenes taamlik heel daaruit; ander kom dieselfde soort trauma nooit werklik te bowe nie. Wat maak tussen dié twee groepe die verskil?

“Veerkrag,” sê Joachim Duyndam, ’n professor aan die Universiteit van Utrecht onlangs aan NEMO Kennislink. Veerkrag, wat hy maan, nié as ’n individuele eienskap, soos aanpasbaarheid of deursettingsvermoë, beskou kan word nie, maar wat in sosiale netwerke ontspring.

Elke, unieke kind is deel van ’n sosiale netwerk, bevolk deur ondersteunende familielede, ondersteunende vriende, ondersteunende onderwysers. Of nie.

Veerkrag is by uitstek ’n sosiale verskynsel.

In ’n sterk groepskultuur, waar mense mekaar aanvaar, opvang, ondersteun, word negatiewe gebeure as ’n span oorkom. So ’n groep mense, wat weet dat hulle van mekaar afhanklik is en mekaar ondersteun, noem Duyndam ’n “sosiale ekologie”.

Neem byvoorbeeld ’n skool, sê maar een waar ’n groep kinders geboelie word. As die skool, die hoof, onderwysers, beheerraad die probleem kan oplos sonder om die vinger na ’n sondebok of sondebokke te wys of kinders uit te stoot, sál samehorigheid herstel word. Daarna kan die ekologie selfs sterker wees. Misluk dit egter, is die skool net nog ’n sosiale konneksie, sonder samehorigheid, sonder veerkrag. Anders gestel: Individue wat oor veerkrag beskik, put dit so te sê altyd uit hulle sosiale ekologie, sê Duyndam.

Vir ’n “sosiale ekologie” het Afrikaans die woord “abbagemeenskap”. Marlene le Roux gebruik dit wanneer sy van haar kinderjare vertel, hoe sy moes veg om erkenning, maar ook hoe sy die steun van ’n abbagemeenskap gehad het waar mense mekaar omarm het, waar volwassenes met kinders gepraat het, hulle hoop gegee het.

Vandag is “veerkrag” ’n gonswoord. Dit word ’n slagspreuk. “Lig jou kop. Toe, komaan, wys ’n bietjie veerkrag.” Maar dis ’n illusie om te dink ons kan teen alles weerbaar wees.

As spanning deurlopend deel uitmaak van jou beroep, kan jy opleiding kry om dit beter te hanteer. Topatlete ontvang opleiding om negatiewe kommentaar in die media, katterigheid van mededingers die hoof te bied. Maar bevind jy jou eensklaps in ’n ander, nuwe spanningsvolle omgewing of situasie, dan is jy nie daarop voorbereid nie.

In elke nuwe situasie word veerkrag en weerbaarheid opnuut getoets.

Kinders se beeld van die wêreld, van ander, én van hulle self, ontwikkel op grond van hulle lewenservaring. Ons veerkrag lê in hoe goed ons ons wêreld en selfbeeld by verandering aanpas. Dit is nie altyd maklik nie, maar die betekenis wat ’n mens aan ’n gebeurtenis heg, kan ook ’n bron van veerkrag word.

Kinders word maklik gelei, beïnvloed, verwar deur wat ander sê of wat hulle deur hulle optrede laat blyk. Die oplossing? Rolmodelle, sê Duyndam. Nie mense om na te doen of na te praat nie, maar wat as inspirasie kan dien vir hoe jy jou gedra. Deur rolmodelle kry kinders beheer om te verstaan wat in die samelewing gebeur en hulle rol daarin.

Wie onafhanklik kan oordeel in plaas van om ander onnadenkend na te volg, is veerkragtig.

Richta IJntema, ’n sielkundige, benadruk dat ’n mens ook veerkrag uit jouself kan put. Uit jou kennis van jouself, jou geloof in jou vermoëns, selfvertroue, bekwaamheid. Maar om hierdie eienskappe te ontwikkel, duur jare, en die grondslag word in die jeugjare gelê terwyl die selfbeeld nog “opleibaar” is.

Kom almal uiteindelik sterker uit ’n krisis? Nee, sê IJntema. Kenmerke van ’n krisis is dat dit wonde, skade meebring. Om te dink alles gaan dadelik weer pienk en plesierig wees, is onrealisties. Ons kan ons geestelik nooit volledig op die lewe se onvoorspelbaarhede voorberei nie; ons kan alleen maar oefen om ons wêreldbeeld aan te pas.

Die besef dat ons kwesbaar is, is ook veerkragtigheid.

In “Die mense wat ek liefhet” sing Laurika Rauch van marsjeer deur die wêreld, beskut teen koue, gepantser teen vuur. Hoe? Saam met mense wat, as daar ’n oorlog kom, ’n karos om jou word.

’n Gepaste lied vir ’n abbagemeenskap, ’n abbaskool, dink ek.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 18 Junie 2021 in die rubriek Woordwisseling in