Bygewerk op 14 Augustus 2022
Redakteur: Jana Luther
Help ons | Blogs en artikels | Woordewisseling | Podsendings | Speletjies | Wortel | Teksredaksie
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en maandeliks in Pharos Aanlyn bygewerk (met uitsondering van rubriekinsetsels, beeld en klank, wat jy slegs hier kry). Tik ’n woord in die kassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem deel aan ons leesprogram en help ons!
Let wel
digitaal b.nw. | digitale | waarby ’n stelsel betrokke is wat data elektronies bewaar.
› digitale bank bank wat al sy dienste via digitale kanale, soos die internet en mobiele banktoepassings, verskaf: › Die bank wat nou as die grootste digitale bank in Suid-Afrika beskou word, kon daarin slaag om te midde van die inperking tot sewe nuwe produkte [...] bekend te stel (Francois Williams, Netwerk24, 13 April 2021). ◌ ENGELS: digital bank
› digitale beursie aanlyn diens, of ’n sagtewareprogram of ’n app op ’n elektroniese toestel, soos ’n slimfoon, waarin digitale weergawes van toegangskaarte, instapkaarte en die mees bewaar kan word, asook bankkaarte, wat die beursiehouer in staat stel om met ander partye elektroniese transaksies aan te gaan waarby geld vir fisiese goedere of dienste gelewer, direk uit een rekening na ’n ander oorgeplaas word, soos by tik-en-betaal: › Met geldoorplasings wat intyds en gratis gebeur, hoef kliënte wat op die platteland woon, nie meer ver te reis om hul geld te kry nie; hulle kan toegang tot hul geld kry via hul persoonlike digitale beursie wat reeds op die app beskikbaar is (Werner Wippenaar, Netwerk24, 13 Oktober 2021). › Intussen wend al hoe meer vryheidsbewegings, skarefinansieringsveldtogte en filantrope hulle tot kriptogeld om fondse van die een digitale beursie na ’n ander oor te plaas sonder dat sentrale regerings dit kan onderskep (Alida Kok, Netwerk24, 17 Februarie 2021). ◌ SINONIEM(E): e-beursie ◌ ENGELS: digital wallet | e-wallet
› digitale boorling iemand wat tot die generasie behoort van mense wat grootgeword het in die era waar tegnologie alomteenwoordig is: › Ons bevind ons in koloniale Suid-Afrika, apartheid-Suid-Afrika, demokratiese Suid-Afrika, of as digitale boorlinge van die globale digisfeer: Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde (Lizette Rabe, Netwerk24, 3 Mei 2018). › Dit is die era van die ontgogelde digitale boorling en alle bronne is skaars. Die gevolg is dat die skeiding tussen ryk en arm meer skreiend is as ooit vantevore (Netwerk24, 28 September 2015). › Speletjies word reeds deur groot maatskappye soos Deloitte en die Wharton-sakeskool gebruik om sekere vaardighede te leer. Vir jong mense kom dit natuurlik omdat hulle digitale boorlinge is (Netwerk24, 4 Junie 2015). ◌ ENGELS: digital native
› digitale bron versameling gegewens wat digitaal vasgelê is en digitaal bewaar word: › Om ’n digitale bron te kan gebruik, is ’n apparaat nodig wat die digitale gewens, wat gewoonlik in die vorm van syfers, gewoonlik kombinasies van ene en nulle, bewaar word, na taal en beeldmateriaal kan omskakel/vertaal. › Hierdie woordeboek is ’n digitale bron. › Kandidate kan ook na hulpbronne soek op die WKOD se e-portaal, wat skakels na digitale bronne vir alle grade insluit (Standard, 26 Februarie 2018). ◌ ENGELS: digital source
› digitale etiket omgangsvorme en beleefdheidsreëls wat in die digitale wêreld – op die internet, in die sosiale media, en so meer – geld: › Digitale etiket gaan daarom dat ’n mens ook in die digitale wêreld met gebruike in die samelewing en ander se gevoelens rekening moet hou. › Vaardighede van ’n goeie persoonlike assistent: … Verstaan digitale etiket (Elvira Wood, Netwerk24, 17 Februarie 2016). ◌ ENGELS: digital etiquette
› digitale ekonomie die invloed van nuwe tegnologieë, nuwe loopbane en nuwe vorme van samewerking op die arbeidsmark en samelewing van die toekoms: › Ná die eerste twee werksessies by die beraad het Merkel die media vlugtig oor handel en die digitale ekonomie toegespreek (Netwerk25, 28 Junie 2019). ◌ ENGELS: digital economy
› digitale geesteswetenskappe [afkorting DG] studies waarin elemente van rekenaar- en geesteswetenskap saamgevoeg word: › [Digitale geesteswetenskappe is] ’n begrip wat vroeg in die een-en-twintigste eeu ontstaan het om ʼn klomp nieverbandhoudende strategieë en benaderings bymekaar te bring te midde van die toenemende digitale transformasie van die alledaagse lewe en werk van geesteswetenskaplikes. Algemene voorbeelde [van DG] is kunsmatige intelligensie […]. Taalstudies waarin korpora deur middel van sagteware of rekenaarkode ingesamel en verwerk word, is ook voorbeelde (Benito Trollip, SADiLaR, 30 Januarie 2020). ◌ ENGELS: digital humanities | DH
› digitale geldeenheid geldeenheid wat in digitale vorm beskikbaar is (nie in banknote en munte nie) en wat deur middel van gedesentraliseerde tegnologie en met minimale tariewe, ook sonder die tussenkoms van ’n bank of sentrale owerheid, veilige betalings oor grense heen moontlik maak: › Beleggers kan nou ook ripple koop en verkoop op […] Suid-Afrika se grootste verhandelingsplatform vir digitale geldeenhede (Petrus Malherbe, Netwerk24, 25 Februarie 2020). ◌ SINONIEM(E): digitale geld | elektroniese geld | elektroniese geldeenheid ◌ ENGELS: digital currency
KYK OOK: kriptogeldeenheid
› digitale grond ontasbare, virtuele grond wat bestaan in ’n virtuele wêreld (’n metadorp, -stad of -land in die metaheelal), wat nes regte grond in erwe opgedeel word en met die geldeenheid van die betrokke land as betaalmiddel, gekoop en verkoop word: › Digitale grond in Afrika nou te koop [...] Om van die digitale grond te bekom, moet jy dit aankoop en dit doen jy deur die geldeenheid binne Ubuntuland te gebruik, naamlik die $Ubuntu-munt, wat op die ethereum-blokketting gebou is [...] Grondeienaars kan hul grondgebied aanpas om enigiets te doen, van winkels huisves, hulpbronne produseer, speletjies en konserte hou of enige ander apps ontwikkel (Werner Wippenaar, Netwerk24, 1 Maart 2022). ◌ SINONIEM(E): virtuele grond ◌ ENGELS: digital land | virtual land
KYK OOK: metaheelal
› digitale identiteit al die gegewens omtrent ’n persoon wat permanent aanlyn beskikbaar is: › Sulke nalatigheid is ’n risiko vir hulle en hul digitale identiteit (Niel Joubert, Netwerk24, 12 November 2013). ◌ ENGELS: digital identity
› digitale immigrant iemand wat tot die generasie behoort van mense wat nie in die tyd van inligtingstegnologie grootgeword het nie, maar eers as volwassenes met digitale aparate en stelsels leer werk het. ◌ ENGELS: digital immigrant
› digitale kaart
1 enige aanlyn, digitale voorstelling van ’n plastiekkaart, soos ’n debiet-, krediet- of ID-kaart, wat volledig virtueel is en wat ’n mens dus nie fisiek nie, maar aanlyn aanbied om jou te identifiseer, betalings te doen, en so meer: › Die virtuele kaart is ’n nuwe funksie wat vir alle kliënte beskikbaar is en wat ’n ekstra laag veiligheid bied vir aanlyn inkopies en aanlyn intekendienste. Die kaart se besonderhede word veilig in ons app gestoor en word nie aan die fisieke kaart van die kliënt gekoppel nie. Dit beteken dat ons kliënte nie meer hul fisieke kaartbesonderhede in aanlyn betalingsportale hoef in te voer nie (Francois Viviers, Netwerk24, 19 April 2021).
2 digitale voorstelling van ’n land, gebied, terrein of gebou wat die ligging van belangrike plekke, geboue of voorwerpe aandui: › Wanneer jy op ’n toer gaan of ’n digitale kaart aflaai om self die kunsroete te stap, kry jy aanwysings na die meer as 120 bestaande en nuwe muurskilderye in die omgewing (Netwerk24, 13 Februarie 2021). › Jy moet die internasionale geografiese inligtingstelsel (GIS) bedank vir GPS-kaarte. Die GIS-projek samel tradisionele kaarte, lugfoto’s en allerlei geografiese inligting van reg oor die wêreld in en omskep dit in digitale kaarte (Cyril Klopper, Weg, 22 Julie 2019). › Gebruik die kaartprogrammatuur op ’n skootrekenaar om jou presiese roete uit te pluis en plant vlaggies op die digitale kaart vir vulstasies, besienswaardighede en slaapplek (Weg, 22 Julie 2019). ◌ ENGELS: digital card | virtual card | cloud card
› digitale kurering ◌ Ook digitale kurasie ◌ keuse, bewaring, instandhouding, versameling en argivering van digitale inligting, bronne en bates: › Willem Boshoff se argief is ’n unieke voorbeeld van eksperimentele en konseptuele argivering én verbeeldingryke digitale kurering wat, hoewel uiters sistematies van opset, ook alternatief, kreatief, oop, speels, informatief, performatief, kunstig en sensories is (Josef van Wyk, Suzanne de Villiers-Human, Dirk van den Berg, LitNet Akademies, 12 Mei 2015). › In 'n kort tyd het sy verskeie outentieke bronne ontleed, hul standpunt bepaal en hulle met haar eie menings gesintetiseer. Sy het toe begin werk om haar idees aan haar klasmaats voor te stel as 'n aanlyn versameling, eerder as 'n klein museumuitstalling. Dit is digitale kurering wat reg gedoen word: studente werk op 'n sinvolle manier met outentieke materiaal; vind, analiseer en organiseer om nuwe betekenis daar te stel uit die baie materiaal wat aanlyn beskikbaar is (ISTE Blog, 23 Mei 2017). ◌ ENGELS: digital curation
› digitale tegnologie tegnologie waarby ’n prosesseerder/verwerker gebruik word wat op grond van ingevoerde gewens en volgens ’n program ’n aantal logiese handelinge/bewerkinge kan verrig met ’n bepaalde uitvoer tot gevolg: › Aandeelhouers is besorg dat die [myn]bedryf nie vinnig genoeg nuwe en digitale tegnologie aanvaar nie (Riana de Lange, Rapport, 9 Junie 2019). ◌ ENGELS: digital technology
› digitale veiligheid ingeligtheid omtrent (en die vermoë om versigtig om te gaan met) digitale privaatheids- en beveilingsaspekte, veral met betrekking tot persoonlike en finansiële gegewens: › Kinders kan hul weg na internetuitmuntendheid oopspeel met Interland, 'n aanlyn avontuur wat die kernlesse van digitale veiligheid met vier uitdagende speletjies prakties uitvoerbaar maak (Google-veiligheidsentrum). ◌ ENGELS: digital safety
deltavariant
Denisovamens
depro
deradikaliseer
derdekultuurkind
dermatillomanie
dermsakkie
dêrra
dêrrie
deugdwang
deugpronker
deugpronkery
deugsinjalering
deurbraakinfeksie
dhal
dhoe’r
diamantmaan
DiCaprio-kewer
diensrobot
diep
diepdekkingsagent
digikon
digisfeer
digitaal
digitaliseer
digitalisering
digitiseer
digitisering
dikvingerfout
dingemalêrie
dinges
diogenessindroom
disanie
disfemisme
distansiëringsuitrusting
djas
djintoe
djits
DM
DNA
DNS 1
DNS 2
dodemars
doekebraai
dofie
dololo
dom