Woordeboek van Afrikaans Vandag

Bygewerk op 20 Junie 2025

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Soek in:

monument s.nw. | monumente |
ENGELS: monument

Van monumente gepraat

Monēre. “Om iemand aan iets te herinner.”

Van dié Latynse woord, via Frans, via Nederlands, kom Afrikaans se monument. Volgens die WAT, ’n struktuur of standbeeld, opgerig om ’n bepaalde gebeurtenis te gedenk, of ’n bepaalde persoon of groep persone te vereer.

Verskillende soorte gedenktekens word gelys: beelde, grafmonumente, -naalde, -pale, kruise, klipstapels, suile. Elk opgerig met die gedagte dat dit tydloos sal wees. Maar ’n monument weerspieël byna altyd die waardes van die tyd waarin dit geskep is en die agenda van sy skeppers; daarom het die legitimiteit van elkeen ’n vervaldatum. Namate die tyd verbygaan, samelewings verander, waardes verskuif. Sodat die vraag ontstaan: Hoe gemaak met uitgediende tekens?

Hier en daar lok ’n struktuur uit die oudheid nog toeriste terwyl oudheidkundiges en beeldbeskrywers die oorspronklike doel daarvan probeer ontrafel. As ’n maatreël teen verweer, teen ikonoklaste, beeldstormers en -vernielers, word baie ou beelde vandag in beeldtuine en -galerye, weg van hul eerste oprigplek, bewaar. Maar hoe gemaak met historiese kolosse? Piramides, tempels op heuwels, oprigsels op berge.

Omdat monumente dikwels groot is, het die afleiding monumentaal, “soos of van ’n monument”, in die loop van die tyd ’n tweede betekenis – “indrukwekkend, groot” – bygekry. Oor monumentale gewrogte (“voortbrengsels van skeppende arbeid”) van die verlede word later dikwels gewroeg: Die beeldpoetser se droom is die ikonoklas se gedrog.

In The Conversation van 4 September 2020 doen Alan Marcus en Walter Woodward ’n ander manier van kyk aan die hand. Monumente, sê hulle, dien ’n tweeledige doel: Enersyds weerspieël dit die heersende waardes van die tyd waarin dit geskep is; andersyds help dit die samelewing sy huidige waardes evalueer deur dit met die verlede te vergelyk. Monumente wys op prestasies, op wat moontlik is, maar ook “dat mense tragies verkeerd kan wees oor iets; selfs al het ’n oortuiging eens breë openbare steun en amptelike goedkeuring gehad, dat gemarginaliseerde of teenstrydige stemme reg kan blyk te wees”. Monumente kan herskep word om ’n waarskuwingsverhaal te vertel.

Monēre. “Om aan iets te herinner, te monitor, te waarsku.”

In Duitsland ná die Tweede Wêreldoorlog is feitlik alle monumente uit die Hitlertyd vernietig; sommige dade is te afskuwelik om so gou onthou te word. Maar in 1986 is ’n ongewone monument in Hamburg opgerig. ’n Twaalf meter hoë gedenknaald, ’n grys obelisk, waarvan ’n gedeelte elke jaar ondergronds laat sak is totdat dit teen 1993 heeltemal uit die oog verdwyn het. Van monoliet tot mausoleum, ’n graftombe, wat vandag ondergronds besoek kan word. ’n Monument van skande.

Soms, wanneer ek verby Paarlberg ry, verbeel ek my ek sien die stygende boog daar bo geleidelik in die 500 miljoen jaar oue granietrots wegsink. ’n Herinnering: Niks wat erns was, duur vir altyd nie. ’n Waarskuwing: ’n Beitel wat ’n bars deur sterre slaan, kan ook die aarde skeur.

Jana Luther
Woordewisseling: Beeld, Die Burger, Netwerk24, 3 Junie 2022 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.  



Let wel
As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word dit in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig. Jy kan ook met spesiale karakters soek. Kyk hier onder.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Artikels, rubrieke en ander bydraes van 2025

Bolmakiesie van woke (LitNet)

Apeneutjies en katjiebotter vir die slimjanne (Netwerk24)

Gril jy jou ook dood vir ’n klamhandjie? (Netwerk24)

Sal jy die toets kan slaag om te wys jy is mens? (Netwerk24)

Alle konings is kêrels, maar nie alle kêrels konings nie (Netwerk24)

Dalk is die pyn in jou hande whatsappitis (Netwerk24)

As jy meer van jou hond hou as van mense (Netwerk24)

Verwaand is nou verwant aan waansin (Netwerk24)

Japie my skapie moet dalk liefs ’n kraak maak (Netwerk24)

Weet jy wat is die agtste ‘bot’ se betekenis? (Netwerk24)

Taalgoggas wat baie laat struikel (Netwerk24)

Jana se reis met woorde (Afrikaans100)

● Oor bottels, flesse, vate, kuipe, balies ... (RSG)

Welkom in die tyd van die Soetkoek-eters (Netwerk24)

So maak jy met ’n motor wat in die modder sit (Netwerk24)

● Oor kalbasse en kruike en ander holgoed (RSG)

Besigtig die volledige lys taalrubrieke, podsendings en nog ander blogs en artikels hier.


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2025 Jana Luther