Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 29 Maart 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Ontlening van woorde boei
Die maniere waarop tale woorde aan mekaar ontleen, is ’n onderwerp wat my in boeie slaan. En uit ervaring weet ek dat baie lesers ook gewillige gevangenes van hierdie onderwerp is.
Na aanleiding van my rubriek oor die regte Afrikaanse uitspraak van Gauteng skryf prof. Louis Lourens, professor in Afrikatale aan die Universiteit van Suid-Afrika, ’n onderhoudende brief oor ’n aantal Afrikaanse leenwoorde wat met ma- begin.
Ons ken dié woorde in Afrikaans as enkelvoude: marakka of maranka of marankie (’n soort pampoen), maroela en makataan. As ons oor meer as een van die goed wil praat, dan sit ons eenvoudig ’n meervouds-s by: marakkas of marankas of marankies, en maroelas, of ’n meervouds-e: makatane.
In die Afrikatale word die meervoud (en die enkelvoud) egter nie deur agtervoegsels aangedui, soos in Afrikaans nie, maar deur voorvoegsels. En dié ma van marakka of maranka, maroela en makataan is ’n meervoudsvoorvoegsel. Die enkelvoude het ’n le- op die plek van die ma-.
Die korrelerende enkelvoude in Sotho is byvoorbeeld leraka, lerula en lekatane.
Ons woorde marankas, maroelas en makatane verteenwoordig dus eintlik ’n dubbele meervoud.
Dan vra prof. Lourens die interessante vraag: Watter faktore het veroorsaak dat ons leenwoorde wat in Sotho ’n meervoudsbetekenis het, in Afrikaans met ’n enkelvoudsbetekenis gebruik? Sy antwoord daarop is dat marankas, maroelas en makatane meestal in massas aangetref word, bv. op landerye en in die veld.
Is daar ook nog ander faktore waaraan lesers kan dink? Die ganse teoretiese historiese taalkunde is antwoordloos hierop. Miskien het die oorspronklike Afrikaanse naamvraers ’n ander vraag bedoel (“Wat is dit?” = Wat noem mens een van dié goed?) as wat die Sotho-informante verstaan het (“Wat is dit?”' = Wat noem mens dié goed?).
Interessantheidshalwe noem prof. Lourens ook die gebergtenaam
die Maluti’s. Ook dit is ’n dubbele meervoud. ’n Leluti is in Sotho ’n glooiing (soos van ’n berg).
Tot so ver prof. Lourens.
Die enkelvouds-le- en die meervouds-ma- het nog ander snaakse draaie geloop. Die vanne Le Roux en Le Grange word deur die Sotho-sprekers as enkelvoude opgeneem, en waar ons in Afrikaans sou praat van die Le Rouxs en die Le Granges, praat die Sotho-sprekers van Maru en Magaransi.
Een van die interessantste Afrikaanse etimologieë is dié van die [aanstootgewende, kwetsende woord] mampara [van die Maleise orang beharoe (“mens, nuwe”, nuwe mens, groentjie)]. Aan die Kaap is dit byvoorbeeld toegepas op pasaangekome slawe, slawe wat nog nie die plaaslike toestande geken het nie. Vandag ken ons ook dié woord as die byvoeglike naamwoord baar.
Met die groot toestroming van Afrikane na die diamantdelwerye van Kimberley in 1876 is dié woord op húlle toegepas. Die Afrikane het die woord ontleen, en absoluut patroonmatig daarvan ’n selfstandige naamwoord gemaak: mpara. En die Afrikane se meervoud van mpara is mampara. Dit het die Afrikaanse mense terugontleen, en onwetend ’n dubbele meervoud mamparas geskep.
Johan Combrink, Taalskatkis, 10 April 1995 © Die Burger, Media24
trefwoorde
ontlening | Afrikataal | agtervoegsel | dubbele meervoud | leenwoord | meervoud | Sotho | voorvoegsel
huidiglik
hulpmiddele by skryf
Idiome wys taalvaardigheid
ingevoerde woorde
Is Afrikaans jonk?
kaplaks
kerfstok
kiri slam en iesegrimmig
Komma as desimale skeier
kort name
lankmoedig en verdraagsaam
Lexikos
loop en stap
meerkat
Mense laat hul voorsê
met iets deel
metonimie
Moenie ’n schmuck wees nie
Moge ’t treffe
nie
Nie net vir koppel nie
Nuwe taalreëls
Ontgroende word oorlams
Ontlening boei
Paps en Mams
plekhouers en stopwoorde
Probleme berispe
Raak naamgewing
Retro-taal, waarom nie?
riemspring en streepsuiker
Rododendron of viooltjie?
saam (met)
Sê en meen is twee
See-erfenis in idiome
sien
Sinne met so
Slegte ruil
snel groeiende
Spelkeuses is taaldemokrasie
Standaardtaal in die kollig
stappe doen of neem?
Taal is baas
taboewoord
testament tot
Turkye, Türkiye
Uitspraak van vreemde woorde
vals verkleinings