Woordeboek van Afrikaans Vandag

Bygewerk op 29 Maart 2025

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Soek in:

Net ’n aap “huh” as hy “ ’n”

Hierdie blog is ’n uitgebreide en verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 23 Maart 2018 in Beeld verskyn het.



Wanneer is ’n woord ’n woord?

’n Woord word woord as twee of meer mense aan ’n vaste reeks klanke wat hulle met hulle spraakorgane voortbring, dieselfde betekenis heg. “Stoel” is ’n stoel, “tsloe” nie meer nie. Deur klanke in te ryg, hulle in skynbaar eindelose kombinasies te rangskik, het ons oergrootjies, soos wafferse Scrabble- en Babanagrams-spelers, tale geskep. Dié gekreun en gesteun kan ’n mens jou nog indink, want vir tussenwerpsels en uitroepe geld dieselfde beginsel: “oesj” is nie “sjoe” nie, en “tsj” nie “sjt” nie.

Ook uitinge wat geen vokale bevat nie, slaag dié woordtoets. Vergelyk die “mmm” van iemand wat oor iets wonder of peins; die ingesuigde “t”-, “ts”- of “tsk”-klank wat van ontevredenheid getuig, of wat herhaal kan word om spyt of jammerte te laat blyk: “t-t-t” of “tsk, tsk”.

Dikwels met ’n tikkie sarkasme daarby. Soos in die volgende korpusvoorbeelde:

“Tsk, tsk, tsk,” sê die man en skud sy kop bejammerend.

“Tsk, tsk. Wie het jou dan so verskriklik seergemaak, h’m?”

Tsk! dink Thandiwe. Ons moes nooit hier kom woon het nie!

“Tsk, hy sal weer afkoel,” sê Rikki dikmond.

Vokaalawesigheid kom in Afrikaans net by uitroepe voor. Vergelyk ook die stilblyopdrag “sjt!”, waarin ’n mens nie regtig ’n “u”-klank hoor nie, al skryf ons liewer sjuut. Sjt lyk vir ons net té vreemd.

Die spelling van sulke tussenwerpsels – as woorde sonder vokaalletters – is veral vir fiksieskrywers en hulle redakteurs soms problematies. So, hier is ’n paar riglyne:

Vergelyk die b’r van koud kry. Is dit baie koud? Voeg dan nog ’n r of twee by, maar nooit meer as drie nie: b’rrr. (Verwant hieraan is klanknabootsing, byvoorbeeld: Hy draai die sleutel en brrrrmmm-brrrrmmm brul die lorrie. Ook in dié sin is drie r’e en drie m’e oorgenoeg. Meer is meestal te veel.)

Pst! trek iemand se aandag. As die persoon horende doof is: Pssst! (Wat ewe-eens klanknabootsend gebruik kan word, soos hier deur P.H. Nortjé in Wellington se suiker: “Toe ons weer sien, loop my vrou koes-koes tussen die bome deur met ’n blikkie insekdoder en sy spuit sover sy gaan. Psst! Psst! Die perdebye lag haar uit.”)

Dan is daar die ontevrede suig-klap-kiesklank, wat ’n mens in die plek van “ag!” of “ai!” kan gebruik: “Ag, kyk wat het ek aangevang!” Dié geluid kry selfs die knapste skrywer moeilik neergepen. Wyle Johan Combrink het voorgestel dat ’n x vir dié tussenwerpsel gebruik word, maar dit het ek nog nooit teëgekom nie. Die meeste skrywers sê hier maar net dat dié of daai karakter (met) sy of haar tong klik.

Naas “mmm” is ’n gewilde, universele tussenwerpsel “huh”. Die Nederlandse taalwetenskaplike Mark Dingemanse het van “huh” ’n hele studie gemaak! (Kyk na sy TED-video hier bo.)

As iemand, veral ’n kind, nie hoor nie, hoor ’n mens dikwels: “Huh?”
Die vraag het haar onkant gevang. “Huh?” “Huh! Wat?” “Uh, huh, o, hallo.”
 
“Huh” word gebruik om verbasing te laat blyk: Huh? Laat ek sien, dis onmoontlik. (Baie verbaas: Huhhh?)

Om vrae te stel: “Huh, John. Wat dink jy?” “Pa, wat gaan aan met daai plante, huh, Pa?” “Huh? Wat bedoel jy?

Om uit te trap: Vir wat sleep jy die kind saam, huh? Kan jy nie van beter geweet het nie?

Om instemming te betuig, word “huh” “uh-huh”: “Kom jy môreaand?” “Uh-huh.”

“Uh-huh” word ook gebruik om te kenne te gee dat jy gehoor het, al stem jy nie saam nie. Voeg ’n vraagteken by en jy sê: “O, nè”: “Ek praat nooit weer met jou nie.” “Uh-huh?
 
By “huh” en “uh”, nes by “mmm”, speel intonasie ’n belangrike rol. Laat daal of styg jou stem gepas, en die betekenis verander. Maar onthou altyd daarby ook dié spreekwoord van Gerhard van Huyssteen: Net ’n aap “huh” as hy “ ’n” (al sal Mark Dingemanse nie met hom saamstem nie).

Afrikaans het ook die tussenwerpsel “ ’n-’n”. Dit word as ’n schwa-klank uitgespreek, soos die “i” in “sit”. Om te verstaan hoe “ ’n-’n” werk moet ’n mens dit eintlik hardop sê:

“H’m-’m,” met jou mond toe. As jy jou mond effens oopmaak, verander die klank: “H’n-’n. H’ng-’ng.”

Vir elkeen van dié reduplikasievorme (die tweede deel is ’n gedeeltelike herhaling van die eerste) is daar ook ’n parallelle reduplikasievorm as wisselvorm sónder die “h”: “ ’m-’m”, “ ’n-’n” en  “ ’ng-’ng”.

Al ses beteken “nee”, met net effense nuanseverskille.

Maar laat jou nee, jou nee wees, en jou ja, ja. Vir elke “nee” hier bo is daar ’n ooreenstemmende simpleks (wat uit net die eerste deeltjie bestaan), wat “ja” beteken: “H’m-’m” (nee) – “h’m” (ja); “ ’m-’m” (nee) – “ ’m” (ja), en so meer.

Die dubbelvorm beteken dus elke keer presies die teenoorgestelde as die enkelvorm.

Is jy verbaas, wil jy iets weet? Verander net jou intonasie. Laat die simpleksklank styg, en vra: “H’m? H’n?”

Jana Luther, 30 Maart 2018  

trefwoorde

intonasie | klanknabootsing | reduplikasie | schwa | tussenwerpsel | wisselvorm



Let wel
As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word dit in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig. Jy kan ook met spesiale karakters soek. Kyk hier onder.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Podsendkanaal

  Artikels, rubrieke en ander bydraes van 2025

As jy meer van jou hond hou as van mense (Netwerk24)

Verwaand is nou verwant aan waansin (Netwerk24)

Japie my skapie moet dalk liefs ’n kraak maak (Netwerk24)

Weet jy wat is die agtste ‘bot’ se betekenis? (Netwerk24)

Taalgoggas wat baie laat struikel (Netwerk24)

Jana se reis met woorde (Afrikaans100)

● Oor bottels, flesse, vate, kuipe, balies ... (RSG)

Welkom in die tyd van die Soetkoek-eters (Netwerk24)

So maak jy met ’n motor wat in die modder sit (Netwerk24)

● Oor kalbasse en kruike en ander holgoed (RSG)

Besigtig die volledige lys taalrubrieke, podsendings en nog ander blogs en artikels hier.


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2025 Jana Luther