Woordeboek van Afrikaans Vandag

Bygewerk op 29 Maart 2025

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Soek in:

olifant s.nw. | olifante | olifantjie | baie groot dier  

UITDRUKKING(S):
die olifant in die vertrek (via Engels) die ooglopende/duidelike/klaarblyklike probleem, waaroor niemand wil praat nie, wat deur almal geïgnoreer word: Wêreldleiers wat die olifant in die vertrek ignoreer in die naam van mag, gewildheid en profyt (Madeleine Barnard, Vrye Weekblad, 28 Junie 2019). Wantroue bly egter die olifant in die vertrek: die boere vertrou nie die staat nie, die staat vertrou nie die privaat sektor nie (Piet Croucamp, Vrye Weekblad, 2 Augustus 2019). In dieselfde uitgawe skryf Tim du Plessis oor die olifant in die vertrek – hoe wit mense steeds met die verlede omgaan sonder ’n opregte besef van onreg. As dit waar is, hoe kry ons die olifant uit die vertrek? (Wilhelm Jordaan, Netwerk24, 3 Februarie 2016).
ENGELS: the elephant in the room

Muggiesifters sien waaierore agter elke bult

12 Augustus is Wêreldolifantdag. ’n Dag om die bewaring en beskerming van die laaste oorblywende spesies van die familie Elephantidae te belig: Loxodonta africana, die savanna-olifant suid van die Sahara; L. cyclotis in die woude van Sentraal- en Wes-Afrika; en Elephas maximus in Indië en Suidoos-Asië. Van Afrika se waaierore met ivoortande by beide die bul en die koei word laasgenoemde onderskei deur ’n kleiner lyf, kleiner ore, ’n hoë, koepelvormige voorkop, een lipuitsteeksel aan die slurp en koeie sonder slagtande.

Op sy rooilys merk die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) die Afrika-spesies as kwesbaar en die Asiatiese een as bedreig.

Olifant. Engels: elephant. Latyn: elephantus. Grieks: elephas. Van ’n ander, vergete naam afgelei, elpedier, staan in die WAT nog elpebeen, vir ivoor.

Diere van die orde Proboscidea, met slurpe (proboskisse). Eens was daar nog ander: In Noord-Egipte die moeriterium, die oudste, ’n varkagtige moerasbewoner, omtrent so groot soos ’n kalf, genoem na die meer, Moeris, waar van sy fossiele gevind is. In Europa en Asië het die dinotherium, met twee ondertoe gebuigde stoottande, die wêreld laat dreun. Noord- en Sentraal-Amerika se mastodons het naas slagtande in die bokaak soms ook gryptande in die onderkaak gehad. Eurasië was die houplek van langhaar-mammoete: gróót, met lang tande wat boontoe krom. Maar hulle het almal uitgesterf. In die Laat Pleistoseen-tydperk reeds, meer as 10 000 jaar gelede.

Vandag is die olifant se nabyfamilie die dassie, en die manatee en doejong, watersoogdiere van die orde Sirenia, wat hulle naamgewers aan sirenes – meerminne – laat dink het.

Wat het olifante, dassies, manatees en doejongs gemeen? Hulle is almal Subungulata. Halfhoewiges, wat nie egte hoewe het nie, maar toonpuntbedekkings wat soos naels lyk.

Omdat olifante so groot is, gaan hul naam dikwels op ander bielies oor. ’n Olifantploeg is sterk, swaar. Olifanttenks word gebou. In weermagtaal is/was olifantskilfers glo graanvlokkies, sê die WAT.

Ook in uitdrukkings en gesegdes staan die olifant sy plek vol, soos wit olifante rakke en kaste. Om ’n ding wat jy nie gebruik nie, nie wil hê nie, maar ook nie van ontslae kan raak nie, ’n wit olifant te noem, kom van ’n (dalk apokriewe) verhaal: As straf gee ’n Siamese koning, in Siam, nou Thailand, aan ’n man glo eens ’n albino-olifant. Daar is ’n ligkleurige olifant ’n heilige dier, ’n simbool van rykdom en voorspoed. Maar kry so een present. Sorg vir haar. Dit kan jou ruïneer. Hoe raak mens van ’n reus ontslae? Vandaar dalk die uitdrukking: Hoe eet ’n mens ’n olifant? Hoe ruim jy ’n skynbaar onoorkomelike struikelblok uit die weg? Jy doen dit stukkie vir stukkie. Hoe anders?

Op dié wat die olifant ignoreer, hoop dat ’n probleem sal weggaan as jy nie daaroor praat nie, niks doen nie, wag ontnugtering. En die muggiesifters, wat op onbenullighede fokus pleks van die olifant te benader? Hulle maak van muggies olifante (luise skilpaaie, splinters balke, krakende neute donderslae). Die vet weet.

Asof dit nie moeilik genoeg is om tussen hologram en werklikheid te onderskei nie.

Jana Luther
Woordewisseling: Beeld, Die Burger, Netwerk24, 12 Augustus 2022 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.  



Let wel
As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word dit in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig. Jy kan ook met spesiale karakters soek. Kyk hier onder.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Podsendkanaal

  Artikels, rubrieke en ander bydraes van 2025

As jy meer van jou hond hou as van mense (Netwerk24)

Verwaand is nou verwant aan waansin (Netwerk24)

Japie my skapie moet dalk liefs ’n kraak maak (Netwerk24)

Weet jy wat is die agtste ‘bot’ se betekenis? (Netwerk24)

Taalgoggas wat baie laat struikel (Netwerk24)

Jana se reis met woorde (Afrikaans100)

● Oor bottels, flesse, vate, kuipe, balies ... (RSG)

Welkom in die tyd van die Soetkoek-eters (Netwerk24)

So maak jy met ’n motor wat in die modder sit (Netwerk24)

● Oor kalbasse en kruike en ander holgoed (RSG)

Besigtig die volledige lys taalrubrieke, podsendings en nog ander blogs en artikels hier.


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2025 Jana Luther