Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 5 Februarie 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui in watter bron jy wil soek, of in albei. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 318 (woordeboek) | 222 (rubrieke)
Japannees s.nw.
◌ ENGELS: Japanese
Afrikaanse woorde uit Japannees
Hoeveel woorde uit Japannees is daar in Afrikaans? Die presiese getal ken ek nie. Maar hier wil ek ’n paar van die algemenes aan jou voorhou.
Karate, judo en joejitsoe is leenwoorde van die twintigste eeu.
In Japannees beteken kara “leeg”, en te “hand”. Karate is die tegniek om te veg sonder dat jy ’n wapen in jou hand het: leëhand-vegtery. Ka is die Japannees vir “mens”, “deskundige”. ’n Karateka is dus ’n leëhand-deskundige.
Judo beteken in Japannees “sagte manier”, “meegewende manier”. Dit dui daarop dat die judoka sy of haar teenstander se eie beweging en massa gebruik om hom of haar onskadelik te stel. Ka is weer eens die Japannees vir “mens”, “deskundige”. ’n Judoka is dus ’n sagtemanier-deskundige. ’n Judoka se judoklere, -pak of -uniform heet ’n judogi. Dié gi, “drag”, kom van die Japannese werkwoord kiru, “om aan te trek”.
Joejitsoe bestaan etimologies uit Japannees joe, “meegewend” en jitsoe, “vaardigheid”.
Teenoor die leenwoorde van hierdie eeu staan die óú woord mebos. Dit is ’n matrosewoord wat reeds in die 17de eeu in die taal aan die Kaap opgeteken is. Dit kom uit Japannees, umebosji, en in dié taal beteken dit “ingemaakte pruime”. Die Maleise kokke wat Kaap toe gekom het, het waarskynlik ook dié woord én saak geken, en hulle het op die resep verbeter. Vandag ken ons mebos as ’n gedroogte, gesoute appelkooslekkerny.
Die Japannese woord geisja beteken in Afrikaans vandag eintlik slegs ’n Oosterse geselskapvrou. In Japan is sy veel meer. Sy is byvoorbeeld ’n kenner van die kunste, ’n masseuse, en ’n bode. Ook die Japannese woord geisja gee etimologies nie die volle sinchroniese waarheid nie. Geisja bestaan naamlik uit gei “kuns”, “kunstige handelinge” en sja “persoon”. Etimologies is geisja so iets soos “kunstige persoon”.
’n Totaal ander woord sja is in riksja. Riksja is ’n verkorte vorm van die oorspronklike Japannese woord jinriksja, met die dele jin, “man”, riki, “krag” en sja, “voertuig”. Etimologies is ’n riksja dus ’n “mannekrag-voertuig”, d.w.s. ’n voertuig wat met menskrag in beweging gebring word.
Johan Combrink
Taalgereedskap: Die Burger, 20 November 1995 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.
isolasiepak
isolasiesorg
isolasiespasie
issie
issit
Itac
itshitshi
IUBN
IUN
IvD
ivermektien
izimbadada
izinyoka
jaar
jafel
jaffel
jaffle
jakalapou
jamaa
jammergat
janaza
janter
jantjie
Japannees
jappifikasie
jas
Jawi
je ne sais quoi
jellielekker
jelliemannetjie
jelpen
jentoe
jerseymoue
jimpels
jintoe
jintoelina
jip-jap
jirlikheid
jissou
jojo
jolliepatrollie
jollof
joos
jors
judgerig
juggle
juigkommando